MOSSELBAAI NUUS - Rugbykenners, -liefhebbers en -nuus-kieriges kan gerus komende Maandag, 17 November, 'n draai by die boekbekendstelling van Tromp-op Rugby gaan maak.
Dié geleentheid vind om 18:00 by die Mosselbaai-gholfklub plaas, waar Chris Jones met die skrywer, Gerrit Pool, in gesprek sal wees.
Tromp-op Rugby het as tweeweeklikse rugbyrubriek in Rapport begin en is op versoek van lesers en oudspelers in boekvorm saamgevat.
Die uitgewer, Naledi, sê hierdie boek is vir álle rugbyliefhebbers en -spelers.
Volgens hom is Pool al meer as 60 jaar by rugby betrokke en gebruik hy dié ervaring om geskiedenis, spelers en hedendaagse gesprekke te verweef.
"Hy het as student op Stellenbosch onder Danie Craven rugby studeer en later vir vier jaar provinsiale rugby gespeel. As afrigter het hy onder meer Suidwes-Afrika, die Universiteit van Pretoria, die Stellenbosch Universiteit, die Westelike Provinsie en ook die Griekwas afgerig.
Hy was ook die tegniese adviseur vir die WP, die Cats en die Springbokke, en het jare lank in die tegniese komitee van SA Rugby gedien. Internasionaal het hy Duitsland afgerig, en in Italië, en studiebesoeke aan Brittanje, Ierland en Frankryk gebring."
Pool het vlugtig met Mossel Bay Advertiser gesels en gesê Maandag se gesprek sal 'n wye spektrum rugbyonderwerpe dek, maar onder meer of rugby nog vir die toeskouer aanloklik is, reëlbesprekings, voorstelle van hoe om dit wat skort daar te stel, die status van die Curriebeker-reeks en meer.
Hulle sal kyk na wat destyds in rugby wás en wat vandag ís, en die verbintenisse tussen die twee bespreek.
Hy sal ook by ander interessanthede soos SWD se rugby (wat hy sê aan die verbeter is) stilstaan. "Rugby speel 'n enorme rol in die samelewing," sê Pool.
RSVP teen môre, 15 November, by jannes@naledi.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’