MOSSELBAAI NUUS - Die jaarlikse interskole tussen Hoërskool Punt en Langenhoven Gimnasium vind hierdie naweek by die Van Riebeeck-stadion in Mosselbaai plaas.
Die skole se beste spanne sal mekaar in verskeie sportsoorte die stryd aansê, met strawwe mededinging wat jaarliks groot belangstelling onder leerders, ouers en ondersteuners lok.
Die interskole volg ná 'n week van spanbou-aktiwiteite, waartydens Punt-leerders aan verskeie prettige aktiwiteite deelgeneem het in aanloop tot die groot sportnaweek.
Die aksie begin reeds Vrydag 14 Augustus wanneer die interskole-debat, -skaak, -muurbal en -hokkie vanaf 15:00 plaasvind.
Saterdag 15 Augustus is dit die beurt van rugby-, netbal- en hokkiewedstryde, met die eerste wedstryde wat om 08:00 afskop.
Die kompetisie beloof om weer vanjaar straf te wees, met 'n groot skare wat na verwagting die pawiljoen by die Van Riebeeck-stadion sal vol pak om hul skole te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’