MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het klagtes van die publiek ontvang oor 'n beweerde plofbare situasie tussen inwoners van Powertown en vermoedelik 'n vigilante-groep wat in die Midbrak-area anderskleurige inwoners uit die gebied wil hou.
Klagtes is ontvang dat mense wat die gebied betree, volgens inligting en vermoedelik op 'n rassistiese wyse gekonfronteer word en in sommige gevalle op 'n voertuig gelaai en uit die gebied verwyder word. Bewerings van onwettige visentering, aanranding en die dreig met 'n vuurwapen is ook gemaak.
Dit sluit areas in soos Klein-Brakrivier, Riverside, Fraaiuitsig, Tergniet en Reebok waar dié voorvalle vermoedelik plaasgevind het.
Sommige van die inwoners het besluit om verklarings by die polisie in te dien en om ook regsmening in te win hoe om die situasie vorentoe te hanteer.
Sersant Lauraine Botha, woordvoerder van die Groot-Brakrivier polisie, het bevestig dat daar klagtes aanhangig gemaak is. Sy het bygevoeg daar was nog geen arrestasies nie.
"Die persone wat hierdie dade pleeg is welbekend aan die gemeenskap en kan uitgeken word asook kontak besonderhede en voertuig beskrywings is beskikbaar, " het een van die inwoners, wat anoniem wil bly, aan die Advertiser gesê. Verskeie inwoners is volgens hom ongelukkig oor die gebeure die laaste tyd en dat hierdie aksies plaasvind wanneer daar twee teen een betrokke is. Met ander woorde geen neutrale getuies van die voorvalle is dan beskikbaar nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’