MOSSELBAAI NUUS - "Ethan was my maat. Ons het alles saam gedoen. Ek gaan hom baie mis."
Só sê Ettienne Cunningham (66) oor die afsterwe van sy kleinkind, Ethan Cunningham (8).
Ethan is op 27 Februarie deur 'n voertuig in Amy Searlestraat, Groot-Brakrivier getref.
Ethan het nog twee dae geleef en is op Donderdag, 1 Maart in die George provinsiale hospitaal oorlede.
Dié graad 3-leerder van die Groot Brak Primêre Skool se toestand het sedert die dag van die voorval bly versleg.
Daar is waargeneem dat Ethan se polsslag wel versterk het wanneer sy oupa met hom in die hospitaal gesels het en terwyl hy in 'n koma was.
'n Gebroke Ettienne sê Ethan het hom op die betrokke dag nog gehelp om hibiscusbome in sakke te sit.
"Hy het nog met my wegkruipertjie gespeel terwyl ek met die bome besig was. Hy't met my gespeel en geroep, 'Oupa' en dan kruip hy weer weg."
Ethan, sy ma Ambrasha en Ettienne het saam in 'n huis in Greenhaven gewoon.
Ettienne sê Ethan het op die dag van die voorval na sy maatjies gegaan wat op die vlakte oorkant die pad gespeel het en was ongeveer 200m van sy oupa af toe die voertuig hom tref.
"Ek het dit nie gesien gebeur nie. Iemand het net vir my gesê Ethan is raakgery. Ons weet nie wat presies gebeur het nie."
Sedert Ethan se dood slaap sy ma, Ambrasha meeste van die dag om.
"Ek los haar maar dat sy slaap. Sy is bitter om 'n kind te verloor wat lewenslustig was.. Ek en Ethan het alles saam gedoen. Ek was tevrede, want hy was my lewensmaat."
Mooi herrineringe
Ethan was lief vir krieket en rugby en het ook sokker gespeel. "Maar wanneer hy verloor het, het hy gehuil," vertel Ettienne met 'n glimlag.
Ethan het gereeld saam met Ettienne gehengel.
"Ek het vir Ethan 'n visstok gegee. Saans wanneer sy ma moes werk het ek na hom gekyk en hy het by my op die bed aan die slaap geraak."
Ettienne sê Ethan wou altyd sy oupa se tee drink en saam met hom kos eet. "En hy wou altyd sy televisieprogramme kyk wanneer ons wou nuus kyk."
"Die Here het my agt jaar saam met Ethan gegee en ek het vreugdevolle herinneringe oor hom. 'n Buurvrou het gedroom dat Ethan se ouma, wat oorlede is, Ethan se hand vat.
"Hulle twee is nou saam. Ek kan die Here dank dat ek saam met Ethan vir agt jaar kon leef. Hy is waar hy is. In goeie hande.
"Sy ouma het hom kom haal met die hand. In die tyd wat Ethan sedert die voorval breindood verklaar is, het die Here ons nog tyd saam met hom gegee."
Ethan se oupa, Ettienne Cunningham.
Ettienne sê die bestuurder van die voertuig het hulle op Woensdag, 7 Maart besoek.
"Ek dra nie gevoelens van haat in my nie. Ek is 'n gelowige mens."
'n Gedenkdiens word op Saterdag, 10 Maart om 10:00 by Hibiscuslaanr 7 in Greenhaven gehou en om 11:00 by die Verenigde Gereformeerde Kerk in die dorp.
Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'