GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Anders as wat aanvanklik berig is, het die groot branders en deinings wat tans kuslangs ervaar word, nie daarin geslaag om die riviermonding van die Groot-Brakrivier te breek nie.
Die hoë branders slaag wel daarin om bo-oor die sandbank, wat die monding tans afsluit, te breek en bring mee dat die watervlak van die rivier veral rondom die Eiland baie hoog is.
Mosselbaai munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het bevestig dat die munisipaliteit nie onmiddellik die monding gaan oopmaak nie, veral nie omdat gevind is dat die sandbank tans daarin slaag om die eiendomme naaste aan die monding teen die aanslag van die branders te beskerm.
Beamptes verbonde aan die munisipale rampbestuursdienste sal die situasie deurgaans monitor totdat daar op Maandag besluit gaan word of die rivier meganies oopgemaak moet word, al dan nie.
Tans hou die watervlakke geen wesenlike gevaar vir inwoners in nie, maar die situasie word fyn dopgehou.
"Die nodige noodplanne is in plek," sê adv Giliomee.
Die munisipaliteit het intussen hul tevredenheid uitgespreek met die resultaat wat die meganiese oopmaak van die Hartenbosrivier die afgelope week tot gevolg gehad het. Ook by hierdie rivier word die situasie deurgaans gemonitor en sal daar Maandag 'n besluit geneem word of die rivier wel dieper oopgemaak moet word, al dan nie.
Oewerbewoners van die Hartenbosrivier het intussen met dankbaarheid reageer op die munisipaliteit se besluit om die rivier wel meganies oop te maak en berig dat toestande op die korttermyn wel merkbaar verbeter het.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'