Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-onderwyser, wat onlangs op aanklagte van onder meer verkragting gearresteer is, het vanoggend in die plaaslike landdroshof verskyn vir 'n formele borgaansoek.
Die 43-jarige verdagte, 'n laerskool onderwyser, se saak is weer uitgestel tot 19 Oktober vir 'n formele borgaansoek.
Beide die staat en die verdediging het die uitstel versoek.
Die verdagte is sedert sy arrestasie in aanhouding en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning.
Die aanklagte teen hom sluit in verkragting, seksuele aanranding en seksuele gereedmaking.
Hy het op 22 September vlugtig vir die eerste keer in dié hof verskyn ná hy op 20 September by die skool in hegtenis geneem is.
Na sy inhegtenisneming het die polisie hom na sy woning vergesel waar daar beslag gelê is op elektroniese toerusting.
Die onderwyser word daarvan aangekla dat die beweerde dade tussen 2019 en 2020 by verskeie persele op Mosselbaai met die slagoffer gepleeg is.
Daar is tans 19 aanklagte teen hom en nog klagtes kan, soos die ondersoek ontvou, by die klagstaat gevoeg word.
Intussen duur die polisie se ondersoek voort.
Die verdagte se identiteit kan nie bekend gemaak word nie omdat dit sy eie kinders sal identifiseer en moontlik ook die van sy beweerde slagoffers.
Enigeen met meer inligting kan kapt Franco Bestbier kontak by 083 547 7086 of die ondersoekbeampte in die saak ao Soretha van Zyl by 071 673 5981.
Vorige artikels:
- Onderwys departement loods ondersoek na onderwyser se inhegtenisname
- Onderwyser bly in aanhouding tot borgaansoek
- Onnie vas vir beweerde verkragting
- Laerskool onderwyser vandag in hof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’