MOSSELBAAI NUUS - Of hy nou destyds se 7 jaar oud was of vandag se 78, oom Fred van Zyl is 'n sportman in murg en been.
"Ek was van kleins af baie aktief en het ook 'n passie gehad vir enige soort oefening en verskillende sportsoorte," vertel hy.
Op laerskool was dit onder meer rugby, krieket, swem, boks en atletiek, waarvan hy rugby, krieket, atletiek en landloop op hoërskool oorgehou het.
Van Zyl en sy vrou, Ina, het sowat 15 jaar gelede Mosselbaai toe verhuis waar hy ook gholf, wat hy al van 12 jaar oud af speel, graag op Pinnacle Point voortgesit het.
FOTOGALERY: Oom Fred oudste, maar beslis nie koudste
Sedert 2009 het hy 'n paar nasionale kampioenskaptitels agter sy naam, wat 'n mens byna sou laat dink oom Fred is 'n sportman van beroep.
Hy was egter vir jare lank 'n boer - eers op Napier en later van tyd Stellenbosch, Namibië en Richmond.
Ná 40 jaar het hy een plaas oorgehou (waar sy seun, Derick, nou boer), boerdery gestaak, plase verkoop en kom "retreat, nie aftree nie" op Mosselbaai, sê hy. Spórt was egter nog al die jare daar en sal nie sommer gestaak word nie.
"My gunstelingsport in hierdie stadium is bergfietsry en aquabiking, wat 'n kombinasie van swem en padfiets is - jy kan swem vir 1.5km en fietsry vir 40km of langer afstande."
Die swemgogga het hom ook so drie jaar gelede weer gebyt en in daardie stadium het hy nog aan driekampe deelgeneem en ook die SA-kampioen op Maselspoort geword in die ouderdomskategorie 70-75.
Daar is 'n paar geleenthede waarvoor hy nou gereed maak en dié voorbereiding bestaan uit vyf dae in die week bergfiets ry, twee maal gim en drie maal swem. Hy is deel van die Santos Seals-swemgroep.
Een van die geleenthede waarvoor hy oefen is die 36ONE-bergfiets-uitdaging wat gedurende Mei in die Oudtshoorn-omgewing plaasvind. Dit behels 361km in 'n maksimum van 36.1 ure ry waarvan fietryers ongeveer 5 600m klim gedurende die roete.
"Dit sal my 12de een wees wat ek aan gaan deelneem en tot dusver het ek die meeste uitdagings voltooi en is ook die oudste deelnemer, soos gewoonlik. Hierdie is 'n baie taai uitdaging en jy ry dag en 'n nag sonder ophou.
"Ek het ook in 2023 aan my derde Cape Epic deelgeneem en klaargemaak as die oudste ryer (75) wat al ooit klaargemaak het. Daarmee het ek my vorige rekord van 2018 met vyf jaar verbeter. As die Here wil, en ek is nog gesond, wil ek weer die rekord aanpak en dit verbeter op 80. As ek kyk na wat ek alles oor die jare kon regkry, was en is dit met die Here se hulp."
Sport is die grootste deel van sy lewe en dit hou sy kop skoon en hou hom gesond, sê Van Zyl.
Sy stokperdjie is sy visvang, wat hulle al die afgelope 23 jaar by Hentiesbaai gaan doen. Natuurlik gaan die fiets ook saam. Volgens hom is daar niks lekkerder as om 50km teen die kuslyn te ry met laagwater nie.
"My raad aan jong mense is om nooit op te hou met hul sport en oefeninge nie, en die ouer garde: dis nooit te laat op te begin oefen nie, eerder laat as nooit!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’