MOSSELBAAI NUUS - Denver Malgas is 'n bewys dat dit nooit te laat is om jou drome te volg nie.
Dié 60-jarige Mosselbaaier is 'n prokureur in die Mosselbaai-landdroshof, maar dit was nie altyd sy werklikheid nie. Malgas was eers vir 30 jaar 'n onderwyser.
As jong man was dit sy droom om 'n pro-kureur te word, maar weens sy familie se finansiële beperkings het hy gedink dit sou nie moontlik wees nie, en het hy eerder gekies om onderwys te studeer.
Sy besluit om sy loopbaan te verander kan toegeskryf word aan sy vrou en Nelson Mandela.
"In 2003 het my vrou my Nelson Mandela se boek, Long Walk to Freedom, present gegee, en ek het gesien hoe my held mense se lewens verander, en het besluit om sy voorbeeld te volg," het hy aan Mossel Bay Advertiser gesê.
In 2005 het hy begin studeer. Nes Mandela se reis was dit nie altyd maklik vir Malgas om sy studies en werk te balanseer nie.
"Ek moes baie opofferings maak en moes gedurende skoolvakansies studeer," sê hy.
Die dood van sy seun in 2007 het sy studies vir ses jaar onderbreek, en sy dogter se onverwagse diagnose van Guillain-Barré-sindroom in 2016 het dit meer uitdagend gemaak, maar sonder sy familie sou dit glad nie moontlik gewees nie, sê hy.
In 2019 is hy uiteindelik as prokureur toegelaat.
Alhoewel dit twee baie verskillende loopbane is, dié van onderwyser en prokureur, het Malgas sommige ooreenkomste opgemerk. "Jy werk met mense en mensekennis in beide beroepe. Maar ek het opgemerk dat ek as 'n prokureur meer waardeer word," sê hy.
Wanneer hy nie in die hofsaal is nie, spandeer Malgas sy tyd om te lees, rugby te kyk en sy eie kruie te kweek, asook om as voorsitter van sy kerk se mansgroep te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’