HARTENBOS NUUS - Geslagsgebaseerde geweld (GGG) is tans ’n kwessie op byna almal se lippe.
Met talle bewusmakingsveldtogte wat oor die land plaasvind, het ’n gr. 11-leerder van Curro Mosselbaai, Janika Verwey, besluit om ook in Hartenbos so ’n veldtog te loods.
Sy het op Saterdag 26 September onder die vaandel van haar jeuggeleide gemeenskapsinisiatief, Little Warriors, ’n stap op die Hartenbos-wandelroete aangebied om hulde aan die vroue en kinders wat hul lewens weens GGG verloor het, te bring.
Vooraf het sy ook benadruk dat die Walk in Her Honour-stap nie ’n protes, betoging of politieke samekoms is nie, maar ’n vreedsame middagstap om slagoffers te onthou.
’n Handjievol mense het by haar aangesluit, en “ons het uiteindelik aan die ander kant van die wandelpad nog ’n hele groepie mense bygekry”, het sy na afloop van die stap vertel.
“Dit was na my mening rêrig ’n reusesukses, en die vibe was ongelooflik lekker! Al was ons daar vir ’n rede wat natuurlik nie die ‘positiefste’ een is nie, was almal so bubbly, vriendelik en vol lewe. Ek het soveel nuwe mense ontmoet en soveel mooi oomblikke beleef wat ek eerlikwaar nooit sal vergeet nie.
Janika Verwey (middel) saam met haar ma, Tanya, en stiefpa, Paulo Marques. Foto: Linzetta Calitz
“Ons het gelag, ander voetgangers het gelag, veral vir my stiefpa, Paulo Marques en sy pers hare. Ons het saam gebid, koffie gaan drink, ge-chill en net die dag saam opge-soak. Dit was soveel meer as net ’n stap. Dit was mense wat vir ’n oomblik bymekaargekom het, nuwe mense wat mekaar ontmoet het, stories wat gedeel is en ’n gemeenskap wat saamgestaan het.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir elke persoon wat opgedaag het, saamgestap het, gehelp het, gebid het of net deel was van die dag.”
Janika sê dit sal vir haar baie spesiaal wees om hierdie stap ’n jaarlikse Little Warriors-tradisie te kan maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’