MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie ondersoek 'n saak van moord nadat 'n 18-jarige jong man leweloos in sy bed aangetref is by 'n huis in Notinanastraat op Saterdagoggend, 12 November.
Die polisie en ambulansdienste is deur die inwoners ontbied, waarna hy op die toneel dood verklaar is.
Volgens adjudant-offisier Kappie Kapp, het die jong man nie 'n mediese geskiedenis van siekte of sigbare wonde aan sy lyf gehad nie.
Met verdere ondersoek, is daar bevind dat die man die vorige aand, Vrydag, 11 November, deur 'n groep mans in Notinanastraat met grawe aangeval is en na bewering verskeie houe teen die kop toegedien is.
Hy is teen die grond neergevel en die verdagtes het weggehardloop. Dit is nie tans bekend hoe die jong man by die huis gekom het nie, maar die vermoede bestaan dat hy gaan slaap het. Hy is die volgende oggend om en by 09:00 deur die mense in die huis dood aangetref.
'n Moorddossier is geopen en twee mans van 18 en 22-jaar is in hegtenis geneem.
Die mans verskyn môre in die Mosselbaai-landdroshof op aanklagte van moord. Enige iemand met inligting wat met die ondersoek kan help, kan sersant Niemand skakel by (044 606 5633).
Vorige artikel: Jong man dood in bed gekry, moord word ondersoek
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'