MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie ondersoek 'n saak van moord nadat 'n 18-jarige jong man leweloos in sy bed aangetref is in sy huis in Gubayostraat op Saterdagoggend, 12 November.
Die polisie en die ambulansdienste is deur die familie ontbied, waarna hy op die toneel dood verklaar is.
Volgens adjudant-offisier Kappie Kapp, het die slagoffer nie 'n mediese geskiedenis van siekte of sigbare wonde aan sy lyf gehad nie.
Met verdere ondersoeke, is daar bevind dat die man die vorige aand op Vrydag, 11 November deur 'n groep mans met grawe aangeval is en na bewering verskeie houe teen die kop toegedien is.
Hy is op die grond neergevel en die verdagtes het weggehardloop. Dit is nie tans bekend hoe die slagoffer by die huis gekom het nie, maar die vermoede bestaan dat hy gaan slaap het.
Hy is die volgende oggend teen omstreeks 09:00 deur sy familie dood aangetref.
'n Moorddossier is geopen en twee mans van onderskeidelik 18- en 22-jarige ouderdom is in hegtenis geneem.
Die mans verskyn môre in die Mosselbaai-landdroshof op aanklagte van moord.
Enige iemand met inligting wat met die ondersoek kan help, kan sersant Melvin Niemand skakel by (044 606 5633).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'