MOSSELBAAI NUUS - Die 45-jarige Hansie Oktober wat op Maandag, 10 Junie in die Mosselbaai-landroshof verskyn het nadat hy vyf mense tydens dieselfde voorval met messe gesteek het, het 'n vorige veroordeling van strafbare manslag.
Na wat verneem word is Oktober in 2007 van moord aangekla maar is hy skuldig bevind op 'n aanklag, van strafbare manslag.
Oktober het op Saterdag 8 Junie 'n skrikbewind in Greenhaven se Hillcrestlaan gevoer toe hy na 'n onderonsie in die omgewing, twee messe in elke hand gevat het en inwoners in die straat aangeval het. Inwoners wat verkies om anoniem te bly het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle is al lank bang vir Oktober. Polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha sê die voorval het 18:00 gebeur. Botha sê die verdagte bly in Hillcrestlaan en het 'n woordewisseling met een van die slagoffers gehad. Sy sê hy het daarna twee messe gevat en vyf mense in die straat, waaronder twee vroue, onderskeidelik 30 en 32 jaar oud, 'n 16-jarige seun, asook twee mans, onderskeidelik 22 en 30 jaar oud, aangeval.
Een van die slagoffers, die 22-jarige Renaldo Kruger, is in intussen in die Mosselbaai-provinsiale hospitaal dood. Die ander vier slagoffers is in die hospitaal vir hulle beserings behandel en is reeds ontslaan. Die verdagte word aangekla van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Volgens sers Botha het verskeie inwoners na afloop van die voorval die polisie gebel in 'n poging om hulp te ontbied. Oktober het vlugtig in die hof verskyn op 'n aanklag van moord en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 2 Julie.
Polisiebeamptes stap saam met die verdagte, Hansie Oktober nadat hy vlugtig in die hof verskyn het.
Lees 'n vorige artikel hier: Verdagte in hof na hy vyf met messe steek
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'