MOSSELBAAI NUUS - ‘n Vyf-en-veertigjarige man het op Maandag, 10 Junie in die Mosselbaai-landroshof verskyn nadat hy vyf mense gelyktydig met messe gesteek het.
Polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha sê die voorval het Saterdagmiddag om 18:00 in Hillcrestlaan op Groot-Brakrivier gebeur.
Botha sê die verdagte bly in Hillcrestlaan en het in dieselfde straat ‘n woordewisseling met een van die slagoffers gehad. Sy sê hy het daarna twee messe gevat en vyf mense in die straat, waaronder twee vroue, onderskeidelik 30 en 32 jaar oud, ‘n 16-jarige seun, asook twee mans, onderskeidelik 22 en 30 jaar oud, aangeval.
Een van die slagoffers, die 22-jarige Leonardo Kruger, is in intussen in die Mosselbaai-provinsiale hospitaal dood. Die ander vier slagoffers is in die hospitaal vir hulle beserings behandel en is reeds ontslaan. Die verdagte word aangekla van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Volgens sers Botha het verskeie inwoners na afloop van die voorval die polisie gebel in 'n poging om hulp te ontbied.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'