Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ’n Groot-Brakrivier-polisiebeampte en -woordvoerder, sers. Lauriane Botha, is Maandagoggend 23 Februarie in dié dorp in hegtenis geneem, waarna sy in die Mosselbaai-landdroshof verskyn het.
Polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie het bevestig sy is vir korrupsie, regsverydeling en intimidasie gearresteer.
Hy sê daar word beweer dat sy onlangs die klaer in ’n 2014-diefstalsaak teen haar (wat later na bedrog verander is) genader het en versoek het om die saak terug te trek.
Agtergrond
Volgens ’n verklaring van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is Botha aanvanklik van 323 aanklagte van bedrog aangekla en gedagvaar om in die Groot-Brakrivier-landdroshof te verskyn.
Toe sy op 28 Oktober 2025 vir die eerste keer moes verskyn, was sy afwesig weens siekte.
Die saak is uitgestel vir haar teenwoordigheid en die vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV).
Die Staat beweer sy het kort voor sy in Januarie moes verskyn die klaer in die bedrogsaak opgesoek, gevind en gepoog om hom te oortuig om die aanklagte teen haar terug te trek.
Sy het hom na bewering items beloof wat sy sou aankoop, en hom ook met gevangenisstraf gedreig. Ten tye hiervan was Botha glo in volle polisieuniform en het sy ook ’n polisievoertuig gebruik.
Die NVG sê voor 10 Februarie het Botha vir die ondersoekbeampte in haar saak ’n boodskap gestuur waarin sy hom meedeel dat die klaer die aanklagte teen haar wou terugtrek; dit het tot ’n ondersoek en die nuwe aanklagte teen haar gelei, wat toe tot haar arrestasie en eerste verskyning (op Maandag) in die Mosselbaai-landdroshof gelei het.
Volgens die NVG is Botha ná haar verskyning op borgtog van R3 000 vrygelaat op voorwaarde dat sy nie met staatsgetuies in kontak mag kom nie.
Die NVG sê Botha se saak is tot Vrydag 27 Februarie uitgestel, wanneer die ouer bedrogaanklagte en die nuwe aanklagte saamgevoeg sal word.
Kommentaar
By navraag het Botha se regsverteenwoordiger, Jurgen Loff, namens haar ’n verklaring uitgereik. “Ons wil net weer beklemtoon dat me. Botha ’n persoon is, nie net ’n aanklag nie. Ons is van voorneme om ons kragtig teen hierdie bewerings te verdedig. Ons herinner almal daaraan dat ons regstelsel ’n persoon onskuldig veronderstel tensy en totdat hulle skuldig bewys word, en ons sien daarna uit om ons kant van die storie in die hof te stel. Ons vra die publiek om uitspraak te behou tot al die feite aan die hof voorgestel is.”
Vorige artikel:
Groot-Brak-polisiebeampte gearresteer, verskyn in hof
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’