GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ’n Polisiebeampte is vanoggend, Maandag, 23 Februarie in Groot-Brakrivier in hegtenis geneem op twee aanklagte.
Polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie het vroeër vandag bevestig die beampte is vir regsverydeling en intimidasie gearresteer en het in die Mosselbaai-landdroshof op dié aanklagte verskyn.
Na afloop van die verskyning is die beampte se identiteit as sers. Lauriane Botha bevestig. Botha is die woordvoerder vir die Groot-Brak-polisie.
By navraag het Botha se regsverteenwoordiger, Jurgen Loff, namens haar ’n verklaring uitgereik: “Ons wil net weer beklemtoon dat me. Botha ’n persoon is, nie net ’n aanklag nie. Ons is van voorneme om ons kragtig teen hierdie bewerings te verdedig.
“Ons herinner almal daaraan dat ons regstelsel ’n persoon onskuldig veronderstel tensy en totdat hulle skuldig bewys word, en ons sien daarna uit om ons kant van die storie in die hof te stel. Ons vra die publiek om uitspraak te behou tot al die feite aan die hof voorgestel is,” sê Loff.
Botha is vrygelaat en gewaarsku om Vrydag 27 Februarie weer in die hof te verskyn. Verdere besonderhede van die saak is nog nie bekend nie.
Sers. Lauriane Botha van die Groot-Brakrivier-polisie.
* Hierdie artikel is aangepas om die korrekte datum weer te gee, 23 Februarie en nie Januarie nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’