MOSSELBAAI NUUS - Die 55-jarige Luwellen Brian Marx is reeds die afgelope sewe jaar 'n ernstige Crossfitatleet.
Hy sal Mosselbaai vanmiddag, Vrydag 6 Desember, in Bellville by die Afrika Meesterbyeenkoms verteenwoordig.
Marx sê hy oefen vyf dae per week en volg 'n streng oefenprogram onder die wakende oog van 'n afrigter.
"Crossfit leer jou om die regte kos te eet wat die liggaam help om by die verskillende oefensessies aan te pas. Ek het nie 'n kundige maaltydplan nie, ek eet net skoon en bly weg van suiker," vertel Marx vir Mossel Bay Advertiser.
Sy harde werk het duidelik vrugte afgewerp.
Dit is nie die eerste keer dat Marx by dié byeenkoms in aksie sal wees nie. Hy het in 2022 én 2023 ook deelgeneem, waar hy die tweede plek ingeneem het in die ouderdomsgroep 50-55.
Vanjaar mik hy na die boonste posisie op die podium. Marx word in sy ouderdomsgroep as een van die voorste vyf atlete op die kontinent gereken terwyl hy op Mosselbaai as die beste beskou word.
Marx het in 2022 en 2023 deelgeneem, waar hy die tweede plek ingeneem het. Foto: Verskaf
Ter voorbereiding van die Afrikabyeenkoms het hy vanjaar reeds by drie ander kompetisies aan sy tegnieke geskaaf.
"Ek hou daarvan om mee te ding. Die eerste kompetisie was net ter voorbereiding vir Meestersbyeenkoms. Ek wil gereed wees," sê hy.
Marx se uiteindelike doelwit is om vir die internasionale Crossfit Spele in die Verenigde Koninkryk te kwalifiseer, waar die titel as die Fikse Meester op die spel is.
"Die hoofdoel is om gesond te wees en om my dorp en my land te verteenwoordig," sê hy. Die enigste uitdaging, volgens Marx, is om al die finansiering te kry wat nodig is om in die kompetisie te kan meeding.
Die ondersteuning wat Marx tot dusver ontvang het, was hartverblydend. Hy is veral dankbaar teenoor sy familie en diegene wat sy verskillende fondsinsamelings deur die jaar ondersteun het.
Wanneer hy nie Crossfit oefen nie, werk Marx in konstruksie en rig hy krieket en rugby af.
Indien enigiemand anders in die Mosselbaai-gemeenskap Marx wil ondersteun om sy Crossfit-drome te verwesenlik, sal enige skenkings aan sy brandstoffonds waardeer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’