MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai was sedert die naweek nie net steeds een van Suid-Afrika se mees geliefde kusdorpe en daarom juis die Kwêla Dorp van die Jaar-titel deur en deur waardig nie, maar die dorp het boonop op sosiale mediaplatforms, veral Twitter oorheers of ge-trend, soos dit in die spreektaal bekend staan. In sosiale mediakringe, is dit 'n absolute hoogtepunt, maar wat beteken dit nou eintlik vir leke wat nie bekend is met die krag van sosiale media nie?
Die Mossel Bay Advertiser het by Servaas de Kock, die verkoops- en bemarkingsdirekteur van Group Editors gaan kersopsteek.
"Baie van ons is bekend met Twitter as die sosiale mediaplatform waar die Amerikaanse President, Donald Trump, sy middernagtelike tierades gereeld voer, maar in werklikheid is dit veel groter. Twitter is een van die top vier sosiale mediaplatforms in Suid-Afrika met ongeveer agt miljoen gebruikers."
As gebruikers twiet, is dit 'n boodskap wat bestaan uit 'n maksimum van 140 karakters, oor hoe hulle oor sekere onderwerpe, produkte of dienste voel.
"Wanneer 'n onderwerp of dorp trend, beteken dit dat die bepaalde onderwerp een van die mees poplulêre onderwerpe vir daardie tydstip op Twitter was. Dit was dus vandeesweek die geval met Mosselbaai gewees."
De Kock verduidelik dat dit belangrik is om binne 'n bepaalde konteks na hierdie verskynsel te kyk. "Trending kom in twee vorme voor. Daar is die gemanupileerde trending of werklike trending." 'n Voorbeeld van werklike trending is die brande wat dele van Knysna in Junie 2017 in puin gelê het. "Daar was nasionale sowel as internasionale belangstelling in hierdie nuusgebeure wat veroorsaak het dat dit vir dae lank op Twitter trend."
30 miljoen internetgebruikers
Volgens De Kock het aanlyn- of internetpenetrasie hand oor hand in Suid-Afrika die afgelope paar jaar toegeneem. "In 2000 het Suid-Afrika baie uitdagings in die gesig gestaar en met verskillende strategieë is daar baie veld gewen. Volgens onlangse statistiek, het Suid-Afrika oor die 30 miljoen internetgebruikers, wat 'n penetrasie van ongeveer 54% van die populasie is. Dit beteken een uit elke twee persone in Suid-Afrika het internettoegang."
De Kock sê voorts dat uit die 30 miljoen internetgebruikers in Suid-Afrika, is daar net 18 miljoen aktiewe sosiale mediagebruikers onder hulle. "Dit is 'n penetrasie van 32% van die populasie. Die belangrike ding om hieruit te neem, is die feit dat die internetmark, nie net in Suid-Afrika nie, maar in Mosselbaai ook, aansienlik vergroot het gedurende die afgelope paar jaar. Baie besighede het hulle alreeds so geposisioneer om te kan kapitaliseer op hierdie groei, maar daar is nog 'n groot hoeveelheid besighede wat glad nie voorsiening hiervoor gemaak het nie."
Raadpleeg kundiges
De Kock waarsku egter dat dit nie raadsaam is vir besighede om slegs 'n aanlynbemarkingstrategie te volg om hulle besighede te bemark nie. So 'n besluit, aldus De Kock, is baie riskant.
"facebook is een van die platforms wat die afgelope paar maande hulle algoritme verander het sodat minder mense mekaar se inskrywings kan sien en sodoende meer van hulle advertensieopsies gebruik maak. Die realiteit is, dat wanneer jy besluit oor jou bemarkingsbegroting, win eers ingeligte advies in. Soos die kundigheid van Group Editors se bemarkingspan. Ons investeer baie om te verseker dat ons bemarkingspan goed opgelei is om die beste aanbeveling te kan maak aangaande jou onderneming se bemarking en sodoende te help sorg dat al jou eiers is nie in een mandjie beland nie."
Die belangrikste vraag bly, aldus De Kock: "bring die bemarkingsaksie wat ek loods, ekstra besigheid in of nie?" Indien nie, moet dit onmiddellik hersien en aangepas word omdat dit 'n voorbeeld van gemanupileerde aksie kan wees.
"Baie geluk Mosselbaai, dit is verseker een van die aanlynhoogtepunte wat omkring kan word. Bemarking in die hedendaagse tyd bly 'n geweldige groot uitdaging. Die internet het die landskap vir altyd verander en die keuse van bemarkingskanale het geweldig toegeneem. Voor jy op 'n strategie besluit, gesels met 'n kenner op die gebied. Group Editors het hulself geposisioneer as 'n mediabesigheid wat 'n besonderse verskeidenheid tradisionele sowel as aanlynbemarkingsopsies bied. Ons wil sien dat elke besigheid in Tuinroete van krag tot krag gaan en nie hulle deure sluit oor swak bemarkingsbesluite nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'