MOSSELBAAI NUUS - Ná 20 jaar in Mosselbaai het 'n afgetrede finansiële sektor-werknemer, Albri Woodward, ontdek dat aftrede nie die einde van 'n loopbaan is nie, maar die begin van 'n heel nuwe hoofstuk.
Sy en haar man het 20 jaar gelede van Johannesburg na Mosselbaai verhuis. Ná 'n lang loopbaan in die finansiële sektor en nog 'n klompie jare se weeklikse pendel Johannesburg toe, het sy uiteindelik afgetree.
"Dit is toe wanneer my nuwe lewe begin het," vertel sy.
Vir die eerste keer was daar tyd vir die dinge waarvoor daar voorheen nooit genoeg ure in die dag was nie - konfyt kook, bak, tuinmaak en sommer net lekker huis-huis speel.
Maar sy het ook begin soek na iets anders: uitsonderlike, handgemaakte items wat nie massavervaardig is nie.
"Items soos spieëls, muurkuns en orna-mente wat daardie tyd nie in die winkels beskikbaar was nie. As ek dit wou hê, moes ek dit self maak."
So het haar kreatiewe reis begin. Sy het aanvanklik spieëls gemaak met rame van dryfhout, skulpe of 'n kombinasie van die twee. Ronde, ovale en vierkantige spieëls het uit haar hande ontstaan, asook meer dekoratiewe ontwerpe met skulpe wat soos kant lyk.
Van haar spieëls was groot en indruk-wekkend, sommige tot 1,5 m by 1,5 m, terwyl ander oesterskulpe gebruik het wat soos rose gevorm is.
"Wat jy jou kan verbeel, kan jy maak."
Haar werk het gou aandag getrek, en sy is genader om spieëls vir boetiekdekor-winkels te maak.
Toe kom daar 'n eenvoudige vraag wat haar kreatiewe wêreld sou verander. Terwyl sy een van die spieëls by 'n winkel afgelewer het, het die eienaar gevra of sy nie dalk vir hulle 'n vis wou maak nie. "Die res is geskiedenis. I was hooked - pardon the pun."
As sy gedink het spieëls maak is lekker, was visse op 'n heel nuwe vlak.
Oor die jare het sy rofweg meer as 100 visse gemaak. Daar was groot visse, springende visse, visse vir buite teen swembadmure, reënboë van kleurryke vissies, skole visse, klein vissies, blink en kleurvolle visse en natuurlik haar kenmerkende dryfhoutvisse.
Sommige van haar grootste visse is ongeveer 1,6 m lank en 70 cm hoog, afhangende van die ontwerp en die ruimte waarvoor dit gemaak word.
Ná meer as 14 jaar beoefen sy steeds die kuns, en haar styl en tegniek het saam met haar materiaal ontwikkel.
"Dit is verbasend wat deesdae beskikbaar is," sê sy oor die verskeidenheid gom, verf, vernis en gereedskap waarmee sy werk.
Haar kreatiewe tuiste is 'n eenvoudige enkelmotorhuis wat in 'n ateljee omskep is - kompleet met sonneblomgordyntjies, 'n geverfde vloer, goeie beligting, en natuurlik musiek.
Het sy al ooit oorweeg om op te gee? "Afskaal, ja. Maar opgee, nee; nog nie."
Wanneer sy in haar ateljee is, voel dit vir haar asof die lewe deur haar are borrel. Sy het vanjaar meer op kleiner visse begin fokus, deels omdat dit meer bekostigbaar is en mense nie altyd plek vir 'n groot kunswerk het nie.
Sy beplan ook om in die toekoms werkswinkels aan te bied waar belangstellendes van haar tegnieke kan leer. Daar is onder meer planne vir Kersfeeswerkswinkels waar deelnemers skulpkersbome en Kersornamente kan maak.
Maar haar eie kreatiewe reis het baie kleiner begin.
"Ek het klein begin en mens het heelwat verbeelding nodig gehad om te sien wat ek probeer skep het."
Haar suster het steeds een van haar eerste visse in haar huis. Vir haar is dit 'n spesiale herinnering aan hoe ver haar werk oor die jare ontwikkel het. Sy lag wanneer sy terugdink aan daardie eerste vis. Dit sou maklik gewees het om ná daardie eerste poging - wat volgens haar nie juis soos 'n vis gelyk het nie - tou op te gooi.
Maar sy het aangehou. "Daar is nie 'n reg of verkeerd hier nie. As jy gelukkig is met jou vis, is dit al wat tel."
Met elke nuwe vis het haar tegniek verbeter. Elke vis het 'n bietjie meer soos 'n vis begin lyk. Vandag hang van haar skeppings in huise regoor Suid-Afrika, selfs in die Bosveld, asook oorsee in onder meer Kanada en die Verenigde State.
En dit alles het begin met een klein dryfhoutvissie.
"Wat as ek opgehou het ná my eerste dryfhoutvissie?"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’