MOSSELBAAI NUUS - Boodskappe van medelye het ingestroom na die skielike afsterwe van 'n bekende prokureur van Mosselbaai verlede week.
Met die aankondiging van Kerneels Meyer se dood op Donderdag, 2 Februarie is die Mossel Bay Advertiser se aanlyn-blad oorval deur mense wat net goeie dinge oor hom geskryf het.
Kerneels (59) het vir 28 jaar in die Mosselbaai-omgewing gepraktiseer as 'n prokureur. Hy het sy studies aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.
Advertiser-joernalis, Alet Engelbrecht het Kerneels vanaf hulle studentejare geken. "Ek het hom leer ken as 'n rasieleier wat saam met onder andere die tenoor, Jannie Moolman en ander JBM-koshuisbewoners ons tot groot hoogtes op die pawiljoen aangespoor het tydens "intervarsity" wedstryde," sê Engelbrecht.
"Kerneels was 'n diep denker, fyn besnaard met 'n sensitiewe siel."
Sy kollega, Pieter Dempsey, 'n staatsaanklaer in die Mosselbaai-landdroshof, vertel dat hy en Kerneels in die 28 jaar wat hulle teenoor mekaar in die hof te staan gekom het, net een keer vasgesit het. "Hy was 'n goeie ou met 'n goeie hart, altyd vriendelik, wat baie mense gehelp het sonder betaling. Hy het my elke dag gebel. Ek sal sy kwinkslae oor alledaagse gebeure altyd onthou."
Nalatenskap
Kerneels het twee seuns waarvan die jongste, Burger, vanjaar by 'n plaaslike laerskool begin skoolhou het. Burger vertel: "My pa se dood het ons baie hard getref. Ons probeer net cope van dag tot dag. Hy was altyd daar om te luister en mee te praat. My pa was mal oor rugby en was altyd langs die veld as ons gespeel het of daar as ons 'n toekenning gekry het.
"Hy was soos 'n tweede pa vir my vriende wat uit die koshuis by ons kom oorbly het toe ek op skool was. My vriende vertel dat hy 'n groot impak op hulle gehad het of jy hom nou net 'n dag of vir 10 jaar geken het.
"Hy het 'n sagte hart gehad en was altyd daar vir ons. Al het hy later self swaar gekry sou hy steeds almal help waar hy kon. Ons mis hom reeds ontsettend baie."
Kerneels se oudste seun, Helgard vertel dat sy pa 'n wonderlike sin vir humor gehad het. Hy het altyd vir mense by die kasregisters gesê hulle moet hom nie meneer noem nie, want hy hou nie skool nie.
"Hy was 'n uitstekende pa. Toe ek universiteit toe is, het ek vir die Vrystaat rugby gespeel en my pa het na al ons wedstryde kom kyk. In my eerste wedstryd is ek vir 'n minuut opgestuur om teen die WP op Nuweland te speel. My pa kon vir 'n week nie uitgepraat raak oor die prestasie nie en het dit vir al die mense in Mosselbaai vertel!
"Ons koester hom. Hy was 'n uitstekende man vir my ma en 'n pa vir my en my broer."
Begrafnisdiens
Die begrafnisdiens vir Kerneels vind Saterdag, 11 Februarie om 11:00 in die NG Kerk, Mosselbaai Suid, plaas. Kerneelsie (soos hy onder geliefdes en vriende bekend was) laat sy seuns Helgard (25), Burger (23), gewese vrou, Lizette Meyer, en susters Amanda Zietsman, Helga Goosen, Karina van der Merwe, Suricke Janse van Rensburg en broer, Jannie Meyer agter.
Kerneels was versot op rugby en ons groet hom met Zandberg Jansen, 'n kleurvolle rugbykenner uit die 1990's, wat na elke uitsending gegroet het met die woorde: "Goeienag ou Grote".
Vorige berig: Begrafnisdiens vir geliefde prokureur
Kerneels Meyer (59), sy seuns Burger en Helgard, en hul ma Lizette Meyer.
Kerneels, Helgard, Burger en Lizette Meyer.
Kerneels saam met sy seun Helgard wat vir die Vrystaat rugby gespeel het en Helgard se ma, Lizette Meyer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'