Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - ’n Belowende krieket- en rugbyspeler van Hoërskool Sao Bras is dood nadat hy Saterdagaand, 27 Junie, met ’n mes gesteek is.
Die Mosselbaai-gemeenskap rou oor die skielike afsterwe van Diego Wessels, ’n graad 11-leerder.
Volgens Wessels se pa, Flip April, was Diego die betrokke aand by ’n kuiergeleentheid in die D’Almeida-gemeenskapsaal toe daar glo ’n onderonsie tussen hom en die verdagte (in sy 20’s) ontstaan het.
April sê die verdagte het Wessels na bewering by die kuiergeleentheid daarvan beskuldig dat hy sy motorbande gesny het, waarna hy glo vir Wessels in die straat agternagesit het.
“My seun het weggehardloop en ons vermoed hy het seker moeg geraak, want hy het by ’n woning in Rosebudstraat by mense wat buite gekuier het, gaan sit. Dit is waar die verdagte hom glo met ’n mes doodgesteek het.”
Die verdagte het intussen in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord. Die saak is uitgestel tot Maandag 6 Julie en hy bly in aanhouding.
April sê hy is nie net van ’n seun ontneem nie. “Die gemeenskap van Mosselbaai is beroof van ’n jong krieket- en rugbyspeler met ongelooflike potensiaal. Diego het ’n sagte hart gehad en sou nie ’n vlieg seermaak nie.”
Intussen stroom huldeblyke en medelye oor Wessels se dood in.
Sy hoofafrigter van die o.16 Garden Route Badgers-krieketspan, Joseph Sontie, was emosioneel toe hy aan die Advertiser vertel het van dié jong speler se vermoë.
“Hy was ’n goeie seun en het ongelooflike potensiaal gehad. Hy het in ’n goeie familie grootgeword. Ek is regtig baie hartseer oor sy dood. Ek hoop God sal by die familie wees, want dit is ’n massiewe verlies.”
Wessels sou dié week ’n krieketkamp in Oudtshoorn bywoon.
Flip April en sy vrou, Roseline by die sertifikate en foto's van Diego Wessels se sportprestasies. Foto: Louise Karsten
Die hoof van Hoërskool Sao Bras, Henry Willemse, het aan die Advertiser gesê dit is ’n baie moeilike tyd vir die skool.
Die skool het op sy Facebook-blad medelye met Wessels se familie betuig: “In hierdie moeilike en hartverskeurende tyd wil ons die bedroefde familie verseker dat die gedagtes, meditasies en vertroostende gebede van die hele skoolgemeenskap aan julle gerig word. Mag julle vrede en vertroosting vind in die wete dat sy kosbare herinnering altyd in ons harte sal voortleef.”
Wessels het rugby en krieket gespeel vandat hy by Diaz Primêr op laerskool was.
Hy het saam met sy pa, Flip April, en sy stiefma, Roseline, in D’Almeida gewoon.
Diego Wessels is in Rosebudstraat vermoor. Foto: Louise Karsten
Sy ma, Mandy, woon ook in dieselfde gebied en het aan die Advertiser gesê sy gaan haar kind baie mis.
’n Kranslegging vind môreaand, Woensdag 1 Julie, om 17:30, in Rosebudstraat plaas by die plek waar Wessels vermoor is.
Polisiewoordvoerder lt. kol. Malcolm Pojie het bevestig dat die verdagte Maandag weer in die hof sal verskyn op ’n aanklag van moord. Hy sal na verwagting dan om borgtog aansoek doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’