MOSSELBAAI NUUS - 'n Handjievol Mosselbaaiers nooi geskiedenisliefhebbers om hulle te help om 'die Kloof' tussen Langstraat en 6de Laan tot sy vorige glorie te herstel.
Dié inwoners meen hierdie klofie is 'n historiese juweel in die dorp, maar groot dele daarvan is egter nou oorgroei en verwaarloos, en hoewel hulle self die gebied probeer in stand hou, is dit vir hulle 'n uitdaging om dit alleen te handhaaf.
Daarom rig hulle dié versoek om hulp aan enigeen wat waarde aan Mosselbaai se geskiedenis heg.
Een inwoner, Stephen McNally, beweer dat Harry Giddey (na wie die Harry Giddey-park vernoem is) Italiaanse krygsgevangenes gekry het om gedurende die Tweede Wêreldoorlog van die klipwerk daar te doen. By navraag het Mosselbaai-erfenis gesê hoewel dit nie betwis word nie, kan dit ook nie bevestig word nie.
Die organisasie betwyfel egter nie die feit dat Giddey wel betrokke was nie. "Mnr. Giddey se [destydse] nabygeleë imposante huis en terrastuine getuig van sy bydrae tot en invloed op die bougeskiedenis van die gebied. Dit is welbekend dat hy ervare plaaslike vakmanne gebruik het om die terrasse en 'n brug in die park, en die tuine van sy eiendom [neffens die kloof], te bou," sê Erfenis.
'n Foto, tans in Stephen McNally se besit, van Harry Giddey destyds by die Kloof.
Nog een van die inwoners, Yolanda Dunkerley, sê enige skenkings in die vorm van fondse, plante/steggies (malvas, poinsettias, krismisrose, ens.), klippies of selfs persoonlike tyd is welkom.
Enigeen wat graag hul hulp vir die klofie se herstel wil aanbied, of meer inligting oor die proses wil hê, kan Dunkerley per e-pos of WhatsApp kontak: [email protected]/083 282 9719.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’