GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Sunita Louw, Kindersorg SA Groot-Brakrivier se maatskaplike hulpwerker en gemeenskapsontwikkelingsbeampte, het onlangs die Groot-Brak GPF se Vrouewaarderingstoekenning ontvang.
“Dankie aan Sunita vir haar harde werk in ons gemeenskap. Sy dryf projekte vir Kindersorg SA Groot-Brakrivier en kry verskillende rolspelers betrokke.
“Sy bring verandering in ’n wêreld waar mense opgegee het,” sê die GPF-voorsitter, Jacky Carstens. Sy sê hiermee erken die GPF Louw se toewyding aan die gemeenskap.
Louw sê hierdie erkenning is vir haar ’n groot voorreg. “Alle eer en dank aan God. Ek is dankbaar dat ek hierdie toekenning kon ontvang en ’n verskil kan maak in die Groot-Brak-gemeenskap. Ek het ’n passie en liefde vir die werk wat ek doen en ek dien die gemeenskap met trots.
“By Kindersorg SA Groot-Brak bied ons ’n verskeidenheid professionele dienste wat daarop fokus om kinders te beskerm en sterk gemeenskappe te bou. Ek geniet dit om by ons plaaslike hoër- en laerskool lewensvaardighede aan te bied wat fokus op selfbeeld en groepsdruk, en waar ek die leerders kan bemagtig met die nodige kennis om regte besluite te neem en voorkomend op te tree.”
Sy werk ook tydens vakansies nou saam met ander rolspelers soos die GPF, die Youth Café en die plaaslike kliniek waar hulle die leerders produktief besig hou met opvoedkundige speletjies en inligtingsessies.
“Ek bied in verskeie areas in Groot-Brak inligtingsessies aan gemeenskapslede waar ek hulle bemagtig met kennis oor hulle ouerlike pligte en verantwoordelikhede asook hoe om ons kinders veilig te hou en te beskerm.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’