MOSSELBAAI NUUS - Die 14-jarige seun wat tydens 'n rooftog by 'n kuierplek in Civic Park in die lae rug gewond is toe een van die rowers per ongeluk 'n skoot afgevuur het, is uit die hospitaal ontslaan en tans in die sorg van sy moeder.
Die voorval het op Sondag, 13 Oktober by die All Star Tavern in Franslaan plaasgevind toe vier mans die personeel, 'n man en 'n vrou, asook die eienaar se 18-jarige dogter en twee minderjarige seuns, 14 en 16 jaar oud na sluitingstyd oorval, aangehou en met 'n kontantbedrag gevlug het.
Die eienaar, Henry Mouers se woonplek is ook op die perseel.
Die eienaar het daarna minder as 'n week voor die voorval om hersonering aansoek gedoen.
Mouers het lede van die gemeenskap 'n petisie laat onderteken vir die hersonering van sy besigheid. Hy meen dat hy deur sy besigheidsure te verander en ander aanpassings te maak 'n impak op die afname in misdaad in die woongebied kan bewerkstellig.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het bevestig dat die kuierplek wettig is en dat die aansoek vir vergunningsgebruik, op 4 Desember 2012 goedgekeur is.
Bouplanne wat 'n kuierplek aandui is goedgekeur op 20 Maart 2014.
Die eienaar het 'n vooraf-aansoek ingedien op 27 September vanjaar. Hy beoog om die bedryf van die kuierplek te staak en eerder 'n drankwinkel of 'n sogenaamde "koop en loop-winkel" te bedryf vanaf die perseel.
In hulle kommentaar, verduidelik die Mosselbaai-munisipaliteit dat 'n hersoneringsaansoek ongeveer drie tot vier maande neem, omdat dit ook onderhewig is aan 'n publieke deelnameproses. Indien die aansoek nie volledig is nie of uitstaande inligting verlang word, kan dit egter die proses vertraag.
Lees 'n vorige artikel: Seun (14) gewond in rooftog
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'