MOSSELBAAI NUUS - Ingevolge NSRI beleid en King IV se beste praktyk- en goeie bestuursbeginsels, het André Fraser verlede week na 10 jaar as stasiebevelvoerder van NSRI Stasie 15 Mosselbaai, die tuig neergelê.
Fraser, wat reeds 32 jaar diens by Mosselbaai NSRI verrig, was ook van 1994 tot 2000 stasiebevelvoerder. Hy word deur JC Roos opgevolg.
Fraser noem dat hy baie trots is op Stasie 15 (Mosselbaai) en op dit wat die afgelope 10 jaar bereik is, maar is ook vinnig om te sê dat, "al het jy 'n stuurman en die enjin werk nie, beteken die boot niks nie".
Hy bedank een en elk van die bemanning, bestuur en sy adjunkte, asook die gemeenskap, vir die onbaatsugtige wyse waarop die sukses van die stasie gebou is.
Juis as gevolg van hierdie goeie spanwerk het Mosselbaai NSRI hierdie jaar die noemenswaardige toekenning van Station Excellence Award ontvang.
Fraser sê sy fokus die afgelope paar jaar, was om 'n goeie opvolgplan daar te stel, nie net vir 'n stasiebevelvoerder nie, maar ook vir bootsmanne en bemanning.
Hy wens die nuwe stasiebevelvoerder, JC Roos, en bestuur van Stasie 15 sterkte en beste wense toe en sluit af deur te sê: "Nou gaan ek fokus op my bemanning van Crew Bravo."
Nuwe bevelvoerder
JC Roos, die nuut verkose stasiebevelvoerder van NSRI Stasie 15 Mosselbaai, begin sy termyn op 1 Junie 2022.
Roos wat reeds 14 jaar diens by Stasie 15 verrig het, was onder andere vir ses jaar adjunk stasiebevelvoerder en het verder in verskeie portefeuljes op die stasie se bestuur gedien. Hy het verskeie kursusse voltooi insluitend gespesialiseerde kursusse by die NSRI Hoofkantoor se opleidingsentrum.
Roos is ook een van die stasie se bootsmanne/skippers (senior coxswains) wat vaardig is in al drie klasse van bote wat by die stasie gebruik word.
Roos se bestuurservaring in internasionale maatskappye, sy breë kennis in veiligheid in die werksplek en opleiding, maak hom baie goed toegerus vir hierdie nuwe uitdaging in sy NSRI-loopbaan.
Roos het reeds met verskeie nuwe idees vorendag gekom en sal die stasie eersdaags toespreek en inlig hoe sy nuwe bestuur daaruit gaan sien en wat sy kort en langer termyn doelwitte gaan wees. Hy sê hy is opgewonde om die stasie tot nuwe hoogtes te lei en voel baie geëerd vir die vertroue wat die stasie in hom plaas om saam, as een span, die gemeenskap en seegebruikers te dien.
Roos en sy span van Stasie 15 word alle sterkte toegewen vir die toekoms.
Die NSRI se noodnommer is 082 990 5954.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'