MOSSELBAAI NUUS - Peggy Roux van Heiderand, wat danksy 'n kompetisie haar volwasse seun vir die eerste keer in 15 jaar vir Kerstyd onder haar dak kon hê, sê dat woorde ontbreek om te beskryf hoe sy voel.
Peggy het in 2019 deelgeneem aan Kfm en Makro se kompetisie, Bring the one you love home these holidays. Hierdie kompetisie bewillig R50 000 om onder meer geliefdes vir Kersfees byeen te bring.
Peggy se seun John (27) woon in Nederland en sy het hom drie jaar laas gesien.
Voorheen het Peggy en haar ander twee kinders, 'n seun en 'n dogter, ook in Nederland gewoon, maar in 2005 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Peggy se eksman en John het agtergebly. John het self besluit om in Nederland sy skoolloopbaan te voltooi, omdat hy dislekties is en daar glo beter ondersteuning tydens sy skoolloopbaan kon ontvang.
Bo en behalwe dat Peggy haar John vir die eerste keer in 15 jaar by die Kerstafel kon laat aansit, was al vyf haar en haar man, Eric se kinders vir die eerste keer in 12 jaar saam vir Kersfees.
"Ek het weer die waarde van familie ontdek. Mens hoor dat ouers hul kinders weggooi en vice versa, en jy staan net verstom. Familie is so ongelooflik belangrik. Ek kan nie vir jou sê hoe vol my moederhart voel nie," het Peggy by navraag vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Peggy sê dat haar man Eric geensins 'n emosionele mens is nie, maar dat toe hy op Kersdag die geskenke uitdeel, die trane dáár was.
"Dis die beste geskenk wat enigiemand kan kry. Ons gebede van 12 jaar is verhoor. Niemand kon my 'n groter geskenk gegee het nie."
Peggy moes helaas op 29 Desember van John en sy vriendin, Rachel wat saam met hom kon kom kuier het, afskeid neem toe hulle na Nederland teruggevlieg het. Hulle beraam glo reeds planne om mekaar gou weer te kan sien.
Foto's 12 jaar uit mekaar geneem van Peggy en Eric se spruite. Die boonste in 2007 toe hulle laas almal Kersfees tuis was en onder, Kersfees 2019.
Lees 'n verwante artikel: Ma en seun herenig vir Kersfees ná 15 jaar
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'