MOSSELBAAI NUUS - Die room van Suid-Afrikaanse toutrek het van vandag (Vrydag 1 Augustus) af in Hartenbos saamgetrek vir die Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskappe.
Altesaam 429 atlete van 145 spanne, wat sewe streke landwyd verteenwoordig, is hier tot môre, 2 Augustus, in aksie. Dis die 54ste keer wat die SA Nasionale Kampioenskappe aangebied word.
"Die SA's bring die land se beste spanne byeen om die krag, eenheid en die ware gees van mededinging te vier," het Dirk Kotzé, burgemeester van Mosselbaai, in sy verwelkoming aan die deelnemers, beamptes en toeskouers gesê.
"Die prestasies wat ons in die volgende twee dae hier gaan sien, sal voortbou op Mosselbaai se trotse kultuur van sportuitnemendheid - 'n nalatenskap van harde werk en toewyding."
Wat opgeval het vanaf die opening om 09:00 is die fantastiese gees en kameraadskap onder die verskillende spanne, wel wetende dat dit tog daaroor gaan om te wys wie se krag, vernuf en voorbereiding saamgewerk het om 'n wenspan op die wennerspodium te plaas.
"Ons is opgewonde oor die goeie opkoms wat weer eens 'n bewys is dat toutrek in Suid-Afrika kerngesond is en dat dit toenemend gewilder raak onder jonger atlete," het Anton Botha, president van SA Toutrek, aan Group Editors se Hugo Redelinghuys gesê.
"Vir elke span is hierdie toernooi die vrug van maande se harde werk, dissipline en opoffering. En teen môremiddag sal Suid-Afrika weet waar sy toutrekkrag lê."
Vorige artikel: SA Senior Tug of War Championships underway in Hartenbos
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’