MOSSELBAAI NUUS - Wetsgehoorsame Danabaaiers is gefrustreerd oor die mate waarop die wildlewe, selfs skilpaaie en hase in hul bewarea toenemend deur motoriste afgemaai word.
Openbare bewusmaking van spoedgrense, die voorsiening van selfs meer spoedboggels en veldtogte deur die woonbuurt se bewarea het skynbaar weinig sukses wanneer in ag geneem word dat sewe bokkies sedert 21 April moes sterf weens motoriste se optrede.
In totaal is vier grysbokkies dood en drie bosbokke. Nog meer onrusbarend is dat die motoriste nie stop om die karkasse uit die pad te verwyder nie en ook nie die voorvalle aanmeld nie.
In een geval is 'n grysboklammetjie onlangs beseer, boonop het die motoris bloot net weggery. Ongelukkig kon die plaaslike veearts na bewering nie die bokkie se lewe red toe dit uiteindelik na die praktyk geneem is nie.
"Die munisipaliteit doen 'n dringende beroep op Danabaaiers en besoekers aan die woongebied om verkeersreëls te gehoorsaam. Belangriker nog, inwoners word versoek om hul gaste daarop te wys dat Danabaai 'n bewarea is waar die wildlewe voorkeur geniet en waar daar dus met baie groter omsigtigheid deur padgebruikers opgetree moet word," maan die munisipale woordvoerder, Colin Puren.
Die Danabaai-bewarea doen ‘n beroep op inwoners om stadiger in dié woonbuurt te ry sodat die wild in die omgewing beskerm kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'