Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Verskeie uitstallers het Saterdag, 30 September, in die Danabaai-gemeenskapsaal uitgestal as deel van die Danabaai Bewarea se bewusmakingsveldtog om 'n sterk band tussen inwoners en besoekers in die area op te bou.
Alles met die doel om dié skilderagtige kusdorpie vir toekomstige geslagte te bewaar.
Inwoners en besoekers kon by plaaslike instellings en besighede, 'n insiggewende dag meemaak en verskeie uitstallers soos S.M.A.R.T., Dierebeskermingsvereninging (DBV), en die organisasie betrokke by voëlmerkprojekte het baie aandag getrek. Daar was genoeg eetgoed, van lekker roomys tot vars gebak.
Volgens voorsitter van die Danabaai Bewarea, Rika van der Westhuizen, is die grootste twee probleme wat die Bewarea-besoekers en inwoners moet bewus wees van, die rommel en die spoedgrens, wat veroorsaak dat van die diere seerkry en/of doodgery word.
"Ons bewusmakingsveldtog by die Danabaai-gemeenskapsaal het goed verloop, ten spyte van die weer en die kort kennisgewing van die geleentheid."
"Geleenthede soos vandag gebruik ons om bewusmaking te kweek by die inwoners en besoekers om die diere- en plante-rykdom as hul eie te aanvaar en dit vir die nageslag te bewaar," sê Van der Westhuizen. "Verskeie projekte word beplan en ons doen ook gereeld 'n skoonmaak projek van ons strandgebied."
Die Bewarea het 'n paar nuwe lede gewerf en 'n paar voël- en fauna- en flora-boekies verkoop. Daar is ook oor toekomstige ondersteuning van die voëlmerkprojek in die nabye toekoms bespreek.
Die Danabaai Bewarea, wat in 1998 gestig is en wat die eerste stedelike Bewarea is in die Wes-Kaap is, grens aan die Indiese Oseaan en sluit 'n groen gordel in, wat skuiling bied vir 'n verskeidenheid van wildlewe- en plantsoorte. Plaaslike inwoners glo dat almal wat in Danabaai woon, trots behoort te wees op dit hul huis te noem.
VIDEO - Danabaai Bewarea hou bewusmakingsveldtog:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’