MOSSELBAAI NUUS - Wie sou nou kon dink rolbal kan eendag sorg dat jy jou gesteelde trouring terugkry?
Gesteelde goedere, onder meer ’n rolbalbalkie en ’n trouring met name daarop gegraveer, is verlede naweek langs die spoorlyn in die omgewing van Langeberg Mall gevind.
Die Bay View-buurtwag kon deur hul speurwerk ’n konneksie tussen dié twee items maak, en die dankbare eienaar van die trouring opspoor.
Die voorsitter van die Da Gamaskop GPF, Hannelie Marais, sê hierdie gelukkige einde is te danke aan buurtwag- en polisielede se samewerking.
Sy sê ’n persoon wat goedere gedra het is in die oggendure van Sondag 21 Junie op sekuriteitskameras naby Garretstraat gesien, waarna reaksiepersoneel na die gebied is. Die persoon is egter intussen deur ’n voertuig afgeskrik en het in die bosse in gehardloop.
Die patrolleerders het deur die gebied geloop en polisielede, wat daar verbygery het, het gestop en ook by die soektog aangesluit - verskeie items is in die bosse langs die spoorlyn gevind.
“Sondagoggend het patrolleerders in daglig na die gebied teruggegaan en ’n sak met juweliersware op die spore gevind. Daar was ’n trouring met name op gegraveer in die sak. Die span het hul eie ondersoek begin, aangesien dit van ’n aangrensende gebied moes kom.” Dis toe dat hulle die konneksie tussen die balkie en die ring maak.
Marais sê die rolbalspelers in hierdie gebied is uitgevra oor die name op die ring en daar was toe mense wat hulle geken het.
Die eienaar, wat in die Diaz-area woon, was met vakansie en onbewus van enige inbraak. Daar is mense na die woning gestuur waar ’n gebreekte venster toe gevind het.
Mossel Bay Advertiser het na die eienaar uitgereik en sal sy kommentaar byvoeg wanneer dit ontvang word.
Marais het inwoners gemaan om paraat te wees en alarmstelsels te aktiveer indien hulle so ’n stelsel het, selfs al bly hulle dalk in ’n veiligheidskompleks. “Jy weet nie wie ’n kompleks binnekom en daar rondloop nie, en ook nie wie naby jou area rondbeweeg nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’