Update
MOSSELBAAI NUUS - Mossel Bay Advertiser se berig oor Hilton en Nanette Westlake wie se droomhuis huis na 14 maande nog nie klaar gebou is nie, het heelwat reaksie uitgelok. Een daarvan was 'n kontrakteur wat Maandagoggend, 22 Mei by die bouperseel opgedaag het en aangebied het om van die plafonne te vervang en deure en ander probleme reg te maak.
Die bouer wat reeds geruime tyd aan die huis werk, het ook 'n nuwe voorman aangestel om die bouprojek so gou moontlik af te handel.
Hy het aan Advertiser gesê dat hy bly is oor die hulp wat die Westlakes nou kry om die huis klaar te maak. Die bouer wou nie teen die ter perse gaan verdere kommentaar oor die voorval lewer nie.
Die kontrakteur vertel hy en 'n goeie vriend, het die berig gelees en Sondagmiddag daaroor gesels. "My vriend het aangebied om vir die materiaal en ander onkoste te betaal as ek die onkoste van die arbeid dra. Ons was Maandagoggend so 11:00 op die bouperseel. Ek werk al baie jare in Mosselbaai en dit is tragies om te sien dat daar bouers is wat sulke werk lewer. Die boubedryf is baie kompeterend en versekering is duur. As 'n kontrakteur nie 'n huis tot op vloervlak self kan finansier nie, gaan hy ook nie genoeg geld hê om die huis te voltooi nie." Hy beveel aan dat huiseienaars 'n banktrekkingvorm by hul bank moet verkry al bou hulle kontant, om te bepaal watter persentasie word wanneer uitbetaal.
"Ek raai altyd voornemende huisbouers aan om te gaan kyk na vorige projekte wat 'n bouer afgehandel het. Stap deur die huis, gesels met die eienaar. Die bouproses moet lekker wees vir die bouer en die klient. Julle moet na die tyd vriende wees en saam kan koffie drink."
Die besigheidsman wat die koste finansier, sê hy het baie jammer gevoel vir die mense toe hy die berig gelees het, veral oor die dogter wat gestremd is en hulle aftreegeld wat nou op is. "Ek het gevoel dis die regte ding om hulle te help. Paying it forward is die beginsel waarvolgens ek en my vrou ons besigheid bedryf."
Probleme in die boubedryf
Gerhard Marais van SAPAC (South African Professionals and Contractors) verduidelik dat hulle alle wettige instansies in die boubedryf verteenwoordig. Dit sluit in boukontrakteurs, argitekte, elektrisiëns, loodgieters, ingenieurs, asbes-, solar-, plafon-, en glasinstalleerders.
Die ontploffing in die vraag na behuising in die Tuinroete, lei tot baie probleme in die boubedryf.
Gerhard & Ella Marais beklemtoon SAPAC se lede is selfregulerend en hul doel is om die kontrakteur en die end-verbruiker te beskerm. Indien 'n lid van die publiek besluit om aan te bou of 'n huis te bou, kan hulle SAPAC.co.za kontak wat dan kan help met inligting rakende professionele instansies en kontrakteurs. Die kliënt kan dan op die aanlyn platform https://sapac.co.za na geskikte kontrakteurs en diensverskaffers in sy / haar gebied kyk en 'n
ingeligte keuse uitoefen.
SAPAC is daar om die regte instansies uit te lig aan die publiek sodoende sal die publiek verstaan hoe hulle hul grootste bate kan beskerm involge standaarde wat gepaard gaan met installasies.
Volgens 'n bouer wat anoniem wil bly, vereis banke dat kontrakteurs by die NHBRC (National Home Builders Registration Council) geregistreerd is om die nodige sertifikaat te verskaf vir as jy die huis weer binne tien jaar verkoop. Hulle bepaal dat die regte riglyne gevolg word, maar beskerm nie die bouer of die kliënt nie. Hulle inspekteurs kom dikwels laat by 'n bouprojek aan as dit reeds aanbeweeg het na die volgende boufase.
"Voornemende huisbouers moet dus na ander regulerende instansies ook kyk in hul keuse van kontrakteurs en diensverskaffers."
Vorige artikel: Droom aftree-huis verander in bouer-nagmerrie
Die loodgieter is besig om nuwe koperpype in te sit nadat die vorige pype uitgeruk is en groot skade veroorsaak het.
Die nuwe kontrakteurs wat die plafonne in sekere dele van die huis gaan klaarmaak.
Van die kontrakteurs wat besig is om die Westlake's se huis klaar te maak, sodat hulle so gou moontlik kan intrek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’