Update
KLEIN-BRAK RIVIER NUUS - 'n Tienjarige meisie van Power Town lê tans in George-hospitaal in 'n medies- geïnduseerde koma na sy Dinsdagoggend, 22 Julie, toe sy die N2 oorgesteek het, deur 'n voertuig getref is.
Haar ma, wat graag anoniem wil bly, sê sy kon weens uitdagings met vervoer eers laat daardie aand haar dogter gaan sien. Gelukkig het hulle familie in George wat intussen na die hospitaal kon gaan.
Op 21 Junie het Mossel Bay Advertiser oor nóg 'n voorval berig. Dié keer het Charlene le Grange (42) haar lewe verloor, ook weens die feit dat sy die N2 oorgesteek het.
Ten spyte van die gevare daaraan verbonde om die N2 oor te steek, sê die inwoners van Power Town hulle het nie eintlik 'n ander keuse nie.
Hoekom die N2 oorsteek?
Daar was in die verlede nog talle sulke voorvalle, dikwels gevolg deur vrae oor hoekom die mense wat in daardie omgewing woon, dit steeds waag om oor die N2 te loop.
Lede van die gemeenskap het aan die Advertiser gesê hulle loop gereeld so oor om by die winkels uit te kom, dikwels tot drie keer per dag.
Volgens Cedric Jansen, 'n gemeenskapsleier, maak die inwoners dikwels gebruik van die winkels by Brinkleys of Munro's Kafee in Klein-Brakrivier. Soms sal hulle van Pick n Pay Fraaiuitsig gebruik maak.
Jansen sê die pryse verskil, maar die eerste twee opsies is dikwels goedkoper. En behalwe vir aankope moet sommige mense ook aan die ander kant van die pad kom om by die werk te kom.
Behalwe vir die N2 oorsteek na die kleiner winkels, moet hulle ook dikwels Mosselbaai toe gaan vir ander redes.
Beskikbaarheid en bekostigbaarheid van vervoer oor die algemeen is 'n uitdaging in die gebied, wat sommige inwoners tot ryloop lángs die N2 noodsaak.
'Onbruikbare' brug
Volgens die inwoners is daar 'n brug in die omgewing van die Klein Brak-rivier, wat veronderstel was om as 'n veilige oorgang na die ander kant van die pad te dien, maar behalwe vir die feit dat dit ver van sekere wonings af is, sê die inwoners ook dit is 'onbruikbaar'.
"Dit is bedek met water, dit is vuil, onveilig en baie donker as jy in die aand loop," het hulle gesê.
Die brug wat by Klein Brak bo-oor die N2 gaan, is ook nie noodwendig veiliger nie, sê Jansen. Nie vir kinders of selfs volwassenes nie. Hy sê daar is al in die verlede 'n volwasse man beroof, en twee meisies is al deur 'vreemde elemente' gejaag.
Tuiste
Daar is ook dikwels gesprekke rondom hoekom inwoners van Power Town nie uit die gebied en weg van die N2 trek nie.
Jansen woon al 32 jaar daar en sê dit is hul tuiste.
"Baie van ons is hier gebore. Buitendien, dis nie net ons wat elke dag die N2 oorsteek nie. Dis toeriste, mense van Groot-Brakrivier en selfs Sonskynvallei wat die pad gebruik," sê hy.
Sanral reageer
Of daar 'n ander uitweg vir die gemeenskap kom, is nog onduidelik.
Die Advertiser het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gevra of 'n nuwe brug of sypaadjie vir die Power Town-gemeenskap beplan is of sal word.
Sanral se mediaverhoudings-bestuurder, Lwando Mahlasela, sê die agentskap hou die situasie fyn dop.
"As deel van pogings om sulke voorvalle in die toekoms te verminder, sal Sanral voortgaan om met provinsiale en plaaslike owerhede saam te werk om praktiese maatreëls te ondersoek en te implementeer om onveilige kruisings te verminder.
"Dit sluit in maar word nie beperk tot padveiligheids-opvoeding en -bewustheid binne die gemeenskap en nabygeleë skole."
'n Saak van roekelose en nalatige bestuur is ná die voorval by die Groot-Brakrivier-polisie aanhangig gemaak.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’