Die jaarlikse Skoenboksprojek, wat vanjaar vir die 19de keer kinders en bejaardes van Kersgeskenke voorsien, het weer amptelik afgeskop.
Lede van die publiek word genooi om deel te word van hierdie inisiatief van liefde en omgee.
Karos Haven in Mosselbaai is een van die instansies wat vanjaar deur die projek ondersteun word.
Verskeie ander instansies in die streek wat ook ingesluit is, is die Helen Bellinganhof-tehuis vir bejaardes en Rooirivier VGK in Oudtshoorn; die Môreson ACVV kinder- en jeugsorgsentrum, Badisa-pleegsorg, Huis Kay Baron, Rosemoor-tehuis vir bejaardes en Tuiniqua-versorgingsentrum in George; die Le Taylder-huis en Kommandantsdrift Primêr in Uniondale; asook die Gert Greeff-tehuis in Willowmore.
Volgens die organiseerders is elke geskenk bestem vir 'n spesifieke kind of bejaarde. Die skenkers ontvang die besonderhede van die ontvanger, insluitende hul naam en ouderdom, sodat elke geskenk persoonlik vir die betrokke persoon uitgekies kan word.
Die geskenke moet in 'n netjiese skoenboks of 'n ander boks van soortgelyke grootte verpak word. Geskenksakke van 'n soortgelyke grootte sal ook aanvaar word. Elke geskenk moet duidelik gemerk word met die ontvanger se naam, ouderdom en die naam van die instansie.
'n Riglyn van R250 per geskenk word voorgestel om 'n mate van eenvormigheid te verseker. Persone wat liewer 'n finansiële bydrae wil maak sodat die projekorganiseerders namens hulle 'n geskenk kan aankoop, kan die organiseerders kontak.
Die organiseerders het lede van die publiek aangemoedig om die projek met familie, vriende en kollegas te deel en só te help om nog 'n Kersfees vir kinders en bejaardes spesiaal te maak. Die sluitingsdatum is 27 November.
Kontak die volgende persone vir meer inligting of om by die projek betrokke te raak:
- Janine Pretorius by 083 244 3228 of [email protected]
- Yolandi Claassens by 083 978 3913 of [email protected]
- Anneline Smith by 084 703 5000 of [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’