HARTENBOS NUUS - 'n Afgetrede onderwyser van Kroonstad is op die ATKV Wandelroete op Hartenbos aan 'n hartaanval oorlede.
Die oorledene, Willem Schutte (70), en sy vrou Shelagh was op Hartenbos met vakansie. Hulle was Maandag, 17 Februarie, op 'n oggendstapsessie langs die see naby die ATKV se Blok D-staanplekke toe hy die hartaanval kry.
"Hy was mal oor die see, veral die Wes- en Suid-Kaap," sê Shelagh.
Beide By Grace Emergency Medical Service en ER24 nooddienste was net na 08:00 op die toneel. Daar aangekom, was lede was die publiek besig om kardiopulmonêre resussitasie op Willem toe te pas.
Nooddienste het dié proses oorgeneem, maar ten spyte van alle betrokkenes se pogings, is Willem op die toneel dood verklaar.
Shelagh sê hulle familie wil hul opregte dank aan die inwoners van Hartenbos uitspreek vir die bystand wat hulle ontvang het tydens en ná haar man se dood.
Van nood- en begrafnisdienste tot inwoners, die ATKV en die kerk, het Shelagh menigte name genoem en gesê daar is nog mense wat sy nie eers die name van het nie.
"Die harte en hande van die Hartenbossers het oopgegaan vir ons en daarvoor het ons groot waardering."
Vorige artikel:
Man sak op ATKV Wandelroete inmekaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’