GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Om op 103-jarige ouderdom steeds jou ID-nommer uit jou kop te ken en elke maand maklik 10 grootdrukboeke deur te lees, is ’n besonderse vermoë, een wat nie sommer in elke Jan Rap en sy maat gevind word nie.
Dié merkwaardige eienskap is deel van Helena Steyn se besonderse menswees.
Helena, ’n inwoner van Groenkloof Aftreeoord in Groot-Brakrivier, het Vrydag 26 Junie hierdie spesiale mylpaal saam met haar dogter, Kia Bierman, gevier.
Later die middag het hulle die geleentheid verder gevier met ’n gesellige ete van ribbetjies saam met haar seun Elbert, ’n afgetrede mediese dokter, en sy gesin in Glentana.
Helena het in Middelburg, Transvaal, op ’n plaas grootgeword en het elke dag per perdekar skool toe gery.
Ná matriek het sy by die staatsdiens aangesluit en by die poskantoor gewerk, eers as assistent en later as klerk.
Dit is ook waar sy haar man, Jan, ’n tesourier, ontmoet het.
Die egpaar het vier kinders gehad: Kia, ’n onderwyser wat saam met haar ma in Groenkloof woon, Elbert, ’n afgetrede dokter, wyle Tertius, ’n prokureur en Jan, ook ’n dokter.
Die gesin het op verskeie plekke in die land gewoon, onder meer in George gedurende 1955/56, voordat hulle na Orkney verhuis het waar hulle vir meer as 40 jaar gewoon het.
Vier jaar gelede het Helena en Kia na Groot-Brakrivier verhuis, ’n besluit wat Helena as een van die beste besluite beskryf.
Helena glo haar goeie gesondheid en helder verstand is slegs genade. “Die ore wil nie altyd saamwerk nie,” skerts sy.
Volgens Kia is haar ma ’n besonder realistiese persoon. Haar gesin was nog altyd haar eerste prioriteit en sy sê haar ma se innemende persoonlikheid het mense maklik na haar toe getrek.
Sy beskryf haar as positief en nederig. “My ma sien altyd die glas as halfvol,” sê Kia.
Op die vraag of daar nog iets is wat sy graag wil doen, antwoord Helena dat sy kan terugkyk op ’n kosbare en vervulde lewe.
“As gesin was daar nie altyd geld vir vakansies nie, maar ons was lief om dinge saam te doen en by die warmbronne te kuier. Ná Jan se dood het ek heerlik saam met die kinders die land, Namibië en oorsee verken. As die wiele gedraai het, was ek in. Ek is tevrede,” sê sy.
“As die bus verby kom, is ek gereed om te klim,” voeg sy by.
Volgens Kia is dit ’n gesegde tussen hulle waarmee hulle bedoel dat hulle gereed is wanneer die tyd aanbreek om die tydelike met die ewige te verruil.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’