MOSSELBAAI NUUS - Die konstitusionele hof se uitspraak verlede week dat lyfstraf tuis voortaan ongrondwetlik is, is met gemengde gevoelens begroet. Die uitspraak beteken, in kort, dat 'n kind nou ná 'n pakslae, na 'n polisiekantoor kan gaan om 'n klag teen sy of haar ouers aanhangig te maak.
Hierdie opspraakwekkende uitspraak is op Woensdag, 18 September in Johannesburg gelewer. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het 'n appél deur die burgerlike organisasie,
Vryheid tot Godsdiens in Suid-Afrika, teen 'n hooggeregshofuitspraak, dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, van die hand gewys.
Mogoeng het in sy uitspraak gesê dat ouers in Suid-Afrika ander maniere as lyfstraf moet gebruik om hul kinders te dissiplineer. Dit beteken dat ouers, wat hul kinders straf, ongeag hoe matig ookal, aanrandingsaanklagte in die gesig kan staar én daarvoor gestraf kan word.
Aanklag
Kinders sal self 'n klag moet indien vir die owerhede om van hierdie oortreding kennis te neem.
Suid-Kaap polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie sê, sou 'n kind wat 'n saak teen sy of haar ouers aanhangig wou maak minderjarig of onder 12 jaar oud wees, sal die saak na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) verwys sal word. "Afhangend van die aard van die beserings wat die klaer opgedoen het, of die mate van geweld wat gebruik word. Andersins sal die plaaslike speurtak die klagte ondersoek."
Onderwys
Onderwysers het die uitspraak met gemengde gevoelens begroet. 'n Onderwyser op Hartenbos, wat ook die ma van twee kleuters is, sê sy stem saam met die uitspraak in die sin dat dit kindermishandeling kan verhoed of verminder.
"Maar dit maak dissipline nou moeiliker want ouers en ook ons as onderwysers moet alternatiewe metodes vind. Ons het dit reeds in die skole gedoen en gebruik die 'tyd uit-metode' waar leerders vir 'n rukkie in die hoek of teen die muur moet sit, sodat hulle kan leer, daar is gevolge vir hulle dade. Dit is egter 'n omslagtiger proses as drie houe op die boud."
'n Plaaslike skoolhoof het gesê dat alhoewel skole reeds die onderwysdepartement se reëls nakom en daarom die uitspraak heelhartig moet ondersteun, daar voorsien word dat dit 'n daadwerklike effek op die algemene dissipline in skole sal hê.
Dianne Rogers, 'n spesialis in opleiding en ontwikkeling in skole asook die besigheidsektor, meen dat mishandeling en ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders op te voed totdat hulle ten volle emosioneel volwasse is, van mekaar onderskei moet word. "Wanneer ouers hierdie reg ontneem word, moet ons onsself afvra of dit die regte ding is om te doen. Die opvoeding van ouers is egter noodsaaklik, want hulle skiet dikwels tekort om die realiteite daarvan om kinders effektief in die huidige samelewing groot te maak, suksesvol aan te spreek."
Regskenner
'n Regskenner op Mosselbaai, Louise Luterek sê die hof is reg om alle vorme van lyfstraf te moet verbied, maar, dat dit prakties 'n ondeurdagte besluit is. Luterek meen dit is soortgelyk aan die uitspraak oor die wettiging van dagga.
"Dagga is toegelaat, maar nou hang dit in die lug. Mense weet nie hoe om met die uitspraak om te gaan nie."
Luterek sê die meeste mense wat lyfstraf toepas, doen dit uit frustrasie. "Ons hoef nie ons kinders te dissiplineer deur vrees in te boesem nie, en dit is wat lyfstraf is. Hoeveel sake word nie daagliks in ons howe op Mosselbaai hanteer as gevolg van geweld nie? Kinders leer dat jy slegs 'n oplossing kan vind deur geweld toe te pas."
Luterek sê vanuit 'n regsaspek is dit die praktiese deel wat problematies is.
"'n Kind wat nou sy ouers by die polisie gaan aangee, moet alleen polisie toe gaan. Ons het nie maatskaplike dienste wat so 'n kind intussen kan akkomodeer nie, dus moet die kind, nádat die saak gemaak is, terug huis toe gaan. En verder, indien die kind minderjarig is, moet daar mediators aangestel word, want die kind kan nie self in die hof getuig nie. Dit is 'n praktiese probleem.
"En vat ons dit nog 'n stap verder, in die gevangenis sit verhoorafwagtendes minstens twee jaar voor 'n saak afgehandel word. Sal ouers wat in hegtenis geneem word aansoek doen om borgtog? En dan kom ons by die aspek van ouers en kinders wat mekaar weens hierdie wetgewing sal manupileer. In kort, is dit 'n goeie uitspraak, maar dit is nie prakties deurdink nie."
Lees 'n verwante artikel: Gesprek vir effektiewe dissipline tuis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'