Gallery Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO'S - Inwoners van Groot-Brakrivier het met 'n plan vorendag gekom om behoeftiges op straat te help met 'n bord kos, in ruil vir 'n geleentheid om hulself te ontwikkel.
Die projek Tokens vir 'n Toekoms, is Saterdag, 11 Maart, geloods en by De Dekke SPAR aan die publiek bekendgestel waar hulle tokens (maaltydbewyse) en heerlike worsrolletjies kon koop.
Die tokens word verkoop vir R10 elk en die idee is om 'n paar in jou motor of beursie te hou en dan aan kinders en ander haweloses te gee as hulle vir geld of kos vra. Die ontvanger neem dan die token na die Youth Café wat in Greenhaven, Groot Brak geleë is waar hulle in ruil vir die token 'n voedsame bord kos ontvang.
In ruil moet die persoon 'n aktiwiteit by die Youth Café verrig en kry dan berading om moontlike huislike- en studieprobleme aan te spreek. Hulle kan gratis kursusse volg om hul vooruitsigte te verbeter en om hulle van die strate af te hou.
Die Wonderful South Africa Foundation het in 2017 met die Youth Café begin wat reeds talle mense in die gebied gehelp het om hulself te bekwaam en te kwalifiseer om verder te studeer.
Mense kry swaar
Die hoeveelheid mense wat swaar trek as gevolg van die Covid-pandemie en moeilike ekonomiese toestande, word daagliks meer. Gemeenskapslede wat met die inisiatief begin het, Tokkie en haar man Leon Oosthuizen, voel sterk daaroor dat almal in die dorp moet saamwerk om die stelsel 'n sukses te maak. Leon sê die publiek se reaksie is baie positief.
"Ons besef dat dit gaan tyd neem om die gemeenskap betrokke te kry. Ons hoop dat die program so sal ontwikkel dat die kinders en grootmense wat soontoe gaan, 'n hupstoot kry om uit die strate te bly en vaardighede te ontwikkel om 'n lewe te maak."
Waar kan jy dit koop?
Die tokens sal ook by die kassiere en die kiosk by De Dekke SPAR in Groot-Brakrivier te koop wees. Volgens die eienaars van die SPAR, Wikus en Gida de Swardt, is dit SPAR se visie om terug te gee aan die gemeenskappe waarin dit funksioneer.
"Ons het 'n passie vir kinders en opvoeding en deur 'n gemeenskapsprojek soos hierdie een waarin ons glo, kanaliseer ons fondse na waar ons 'n verskil kan maak. Ons fokus hierdie jaar op die Youth Café en deur die Tokens vir 'n Toekoms-projek te ondersteun en in ons winkel beskikbaar te stel, voorsien ons in 'n groot behoefte."
Allison Wesso, 'n werknemer sê hulle het al 'n paar tokens verkoop." 'n Dame van die Paarl wat hier vakansie hou, was baie opgewonde oor die token-idee. "Sy het gesê hulle gaan definitief kom kers opsteek om dieselfde projek daar te begin. Dit is soveel beter om mense só te help as om geld te gee."
Alanzo Whitebooi, Reginald Le Fleur, Charica Keyser, Mathapelo Tshabalala, Jaébré Booysen, Yolyn Fortuin en McWilliam Wesso is lede van die Wonderful South Africa Foundation wat by die Youth Café werk.
VIDEO - Leon en Tokkie Oosthuizen van Groot-Brakrivier het die tokens-konsep begin:
VIDEO - Reginald le Fleur is deel van die Wonderful South Africa Foundation wat by die Youth Cafe werk:
VIDEO - Jaebre Booysen en Yolyn Fortuin van die Wonderful SA Foundation-span by die Youth Cafe:
VIDEO - Yolyn Fortuin vertel hoe die Youth Cafe en die Wonderful SA Foundation haar gehelp het:
'Ons bring jou die nuutste Groot-BrakRivier, Tuinroete nuus'