MOSSELBAAI NUUS - "Daar is geen verbod op swaarvoertuie om gedurende besigheidsure in Mosselbaai se middedorp of besigheidsareas te beweeg nie. Daar is boonop geoormerkte areas waar hierdie voertuie mag parkeer vir besigheid, onder meer agter die Bayside-sentrum," berig die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Dit volg op klagtes oor swaar vragmotors wat in die vroeë oggendure in residensiële strate stop en wag om vrag af te laai sodra besighede vroegoggend oopmaak.
Die voertuie is meestal verkoelingstrokke met enjins wat moet luier ter wille van die lugreëling. Die geraas van die lugreëlings en enjins veroorsaak egter 'n stoornis vir omliggende inwoners.
Die munisipaliteit het reeds gesprekke met die betrokke besighede gevoer, wat van kontrakteurs gebruik maak vir aflewerings. Die besighede het onderneem om hul kontrakteurs te vra om nie douvoordag voor hul hekke te stop nie, maar liefs van staanplekke by vulstasies langs die N2 buite die dorp gebruik te maak.
"Munisipale wetstoepassers het na aanleiding van klagtes wel op Maandae vanaf 03:30 tot 06:30 monitering by van die betrokke besighede gedoen en geen probleme opgemerk nie. Hierdie monitering sal voortgaan," berig Puren.
Die munisipaliteit verhoed die bestuurders van swaarvoertuie om in die dorpsgebied te oornag weens die geraas van die voertuie se remsisteme en die klagtes wat inwoners daaroor geopper het.
Die bestuurders van swaarvoertuie wat snags in die dorp oorstaan, verlaat weens die risiko van diefstal nie hul voertuie nie. Dit skep gevolglike probleme met ablusiefasiliteite en higiëne.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'