TUINROETE NUUS - André Stander, bekende sportskrywer van die George Herald en sy susterskoerante, is Vrydag, 5 Oktober tydens sy skoolreünie in George oorlede.
Stander is aan natuurlike oorsake oorlede.
Volgens sy vrou, Magda, het André daarna uitgesien om die reünie by PW Botha Kollege by te woon. "Hy het vroeër die dag in die berg gaan stap en was baie trots op sy gesondheid. Hy wou graag later die aand na die reünie gaan," het Magda gesê.
Sy het egter 'n oproep omstreeks 21:00 Vrydagaand van gaste by die reünie ontvang om haar mee te deel dat haar man in mekaar gesak het. "Ek was by die huis en hulle het gesê ek moet dadelik kom, dit lyk nie goed nie. Toe ek en my seun Francois daar aankom was hy reeds dood."
Volgens Magda het André weens 'n hartaanval beswyk. Na André se hartoperasie 'n klompie jare gelede het hy baie aandag aan sy gesondheid gegee.
"Sy bloedsuiker was ook baie goed en hy het baie gewig verloor," het Magda gesê.
Hugo Redelinghuys, die sportredakteur van die George Herald en André se boesemvriend, is nog totaal verslae oor sy vriend se dood. "Ons het Vrydag voor sy reünie nog vir oulaas 'n kans gehad om saam te kuier. Min het ons geweet dit sou die laaste keer wees," het hy gesê.
André was 39 jaar werksaam by die departement korrektiewe dienste op George. Tydens sy diensjare was hy oor naweke 'n gereelde gesig op die sportveld waar hy sy passie as sportskrywer uitgeleef het.
Hy het vir 'n aantal jare na sy aftrede vir verskeie koerante as vryskutjoernalis werk gelewer, waaronder Rapport en Die Burger.
André was sedert 2015 voltyds 'n medeskrywer vir Group Editors.
Hy was ook 'n mede-aanbieder van 'n radio-geselsprogram oor sport in ons kontrei op EDENfm saam met Johan Prinsloo, gewese hoofuitvoerende beampte van die SWD Arende.
Hy is aangewys as die Eden-sportjoernalis van die jaar in 2016, en die Wes-Kaapse departement van kuns en kultuur het 'n soortgelyke toekenning aan hom gemaak.
André is Woensdagmiddag om 15:00 vanuit die NG Kerk Denneoord ter ruste gelê. Hy word oorleef deur sy vrou, Magda, 'n seun, Francois en dogter, Annalien.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'