MOSSELBAAI NUUS - Is jou onderneming die beste in die dorp, maar bittermin mense weet dit? Nou is die geleentheid om jou onderneming se voortreflikhede aan die groot klok te hang.
Elke jaar gee die Mosselbaai Besigheidskamer ondernemings die geleentheid om deel te neem aan die Besigheid van die Jaar en vorige wenners kan dit ondersteun deur te sê die toekenning het ondernemings tot groot voordeel gestrek. Die tyd is besig om uit te loop en jy sal moet spring. Die sluitingsdatum is 14 September waarna ‘n paneel sal sit om die wenners in die verskillende afdelings te kies.
Dit is nie net die groot ondernemings in die dorp wat met die louere wegloop nie. Daar is drie afdelings waarin meegeding kan word. Die afdeling vir klein ondernemings is vir diegene met ‘n omset tot op R5 miljoen per jaar; die medium afdeling is tussen R5 miljoen en R20 miljoen per jaar en die afdeling vir groot ondernemings is vir ondernemings met ‘n omset meer as R20 miljoen.
Daar is ook ‘n afdeling vir korporatiewe deelnemers asook ‘n afdeling vir die Sakepersoon van die Jaar en ‘n Gemeenskapspersoon van die Jaar.
Die wenners sal tydens die Besigheidskamer se galafunksie, wat op Vrydag, 21 September by Jakkalsvlei plaasvind, aangekondig word. Die gasspreker tydens hierdie spoggeleentheid is Tim Harris, hoofuitvoerende beampte van WESGRO. Van die kwaliteite en kriteria waarna die komitee kyk, sluit in die Besigheidskamer se visie om uitnemendheid te beloon asook om te kyk na die etiek van besigheid doen in ‘n hoogs kompeterende omgewing.
Die toekennings wil ook ondernemings en entrepreneurs aanmoedig om hul doelwitte te oortref en nuwes te stel. Genomineerdes moet deel van die Mosselbaai Besigheidskamer wees en ‘n geregistreerde maatskappy in Suid-Afrika bedryf. Entrepreneurs word hiervan kwytgeskel.
Elke aansoek moet deur ‘n kort CV vergesel word, asook die aantal jare wat die besigheid reeds sake doen asook ‘n motivering vir die nominasie.
Al die finaliste moet die gala-aand op Jakkalsvlei bywoon en die komitee se beslissing word as finaal aanvaar. Dit staan enigeen vry om sy eie onderneming of enige onderneming te nominee. Nominasievorms is beskikbaar op die webtuiste admin@mosselbaychamber.co.za of bel 082 571 3220.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'