"Ek beskou haar bloot as 'n groot baba. Pippie is net ongelooflik, want elke keer as mense sê sy kan nie, dan bewys sy hulle verkeerd."
Anice en Pippie was die eregaste tydens 'n middagete wat op Sekretaressedag, Woensdag, 4 September, deur Rauch Gertenbach ten bate van die Leolan Akademie vir kinders met spesiale behoeftes, aangebied is.
Met Pippie saam met haar op die verhoog, het Anice gou gesê dat sy wens dat Pippie liewer self kon praat. "Vir nou, is ek Pippie se stem. Boonop, het ek die Here belowe dat ek nie vir motiveringspraatjies sal voorberei nie, maar eerder sal toelaat dat Hy deur my praat."
Van Pippie se merkwaardige verhaal het sy min gesê, behalwe om te noem dat die kleuter tot op hede 55 operasies gehad het. "Almal ken al die storie, maar min mense weet van die geestelike stryd wat ons deur is," het sy gesê.
Na 'n kort en bondige boodskap het sy dapper die baan geopen en die gehoor uitgenooi om vrae te stel.
"Ek het niks om weg te steek nie. Niks rakende Pippie is meer privaat nie, want ek het aanvaar sy is nou volksbesit."
Vroeër die dag, het Anice tyd saam met die kinders van Leolan deurgebring. Die Leolan-kinders het tydens die geleentheid 'n sang-item gelewer, waarmee hulle ongetwyfeld talle harte verower het.
Anice het haar praatjie afgesluit met spesiale woorde gerig aan Leolan – "Vandag gaan nie oor Pippie nie, dit gaan oor Leolan. Ons is vandag hier nét vir julle en sal julle ondersteun waar ons kan."
Yolandi Botha, hoof van Leolan, het gesê dat Anice 'n lewensveranderende indruk op haar gemaak het.
"Ek het nog nooit so 'n positiewe mens teëgekom nie. Ek het nie woorde om haar te beskryf nie."
Junene Muller, wat 'n sleutelrol gespeel het in die organisering van die geleentheid, het gesê dat die goeie ondersteuning wat vanuit die Mosselbaaise gemeenskap verkry is, voorwaar noemenswaardig is.
"Digby 200 mense het die ete bygewoon. Mense se harte en hande het werklik oopgegaan vir Leolan, danksy Pippie se inspirerende verhaal."
Wendl Louw van Leolan Akademie sing 'n liedjie vir Anice Kruger tydens haar besoek aan die sentrum vir kinders met spesiale behoeftes soos outisme. Foto: Cornelle Carstens
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'