MOSSELBAAI NUUS - Oud-studente van die destydse Skiereilandse Technikon het 'n tyd gelede by die ATKV-vakansieoord in Hartenbos byeengekom vir hul derde reünie. Lede het van Gauteng, Oos-Londen, Port Elizabeth, Wes-Kaap, Worcester, Saldanha, Port Nolloth, Springbok, Upington, Kimberley, Piketberg, Uitenhage, en selfs Namibië gekom om vervloeë dae te herdenk.
"Nuwe oomblikke van herinneringe is oor die naweek verewig," sê Vivienne Johnson, verteenwoordiger van die groep.
Die byeenkoms het drie dae geduur en het met 'n gala dinee afgeskop. Die volgende dag is Mosselbaai verken. Die wat manhaftig was het gewys dat ouderdom net 'n nommer is en het op die ouderdom van oor die 60 jaar die 'zipline' aangedurf.
Die Sondag is soos gewoonlik 'n erediens gehou waar 'n kollekte opgeneem is. Hierdie kollekte word dan aan 'n plaaslike behoeftige organisasie geskenk. Op hierdie wyse poog die reünie-groep om terug te ploeg in die gemeenskap.
Die hoogtepunt van die byeenkoms is altyd die potjiekoskompetisie. Lede word lukraak in 'n groep gedeel en moet dan die toegekende potjie maak.
Groot opgewondenheid het van vroegdag al geheers. Onpartydige plaaslike beoordelaars is gekry om die potjies te beoordeel.
Die professionele pogings van die groepe het selfs die beoordelaars verstom. Voorwaar iets om op trots te wees. "Dalk word hulle volgende keer vir die TV-program Laat die potte prut genooi word vir 'n TV-opname," vertel Johnson.
'n Bedrag van R7 200 is aan afrigter, Vernon Petersen van die Shotokan-ZA karateklub in Mosselbaai oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'