MOSSELBAAI NUUS - Die voormalige munisipale bestuurder van Mosselbaai, adv Thys Gilliomee se kontrak is verlede week op 13 Julie beëindig nadat die ondersoek teen sy beweerde wangedrag afgehandel is.
Van die opposisiepartye is nie tevrede met die uitkoms van die saak nie.
Icosa
Dawid Kamfer van Icosa het gesê dat dit onwaar is dat die hele raad die ooreenkoms van 'n skikking aanvaar het.
"Ek was nie eens by die spesiale raadsvergadering teenwoordig nie. Al sou ek teenwoordig wees, sou Icosa nie sy steun gegee het vir so ooreenkoms nie."
Kamfer het by navraag oor sy afwesigheid by die spesiale vergadering gesê dat hy berus het by die verslag wat deur die uitvoerende burgemeester voorgelê is dat daar genoeg bewyse bekom is om 'n interne ondersoek te begin. Dus het hy nie die noodsaaklikheid van verdere bywoning van nog 'n spesiale vergadering noodsaaklik geag nie. Hy beweer voorts dat hy die kennisgewing na die spesiale raadsvergadering laat ontvang het.
"As raadslid van Icosa het ek die ondersoek verwelkom, sodat die waarheid kon uitkom. Daar is steeds baie vrae oor die uitkoms. As raadslid van Icosa is ek tans besig om regsadvies hieroor in te win."
ACDP
Die ACDP het in 'n persverklaring ook te kenne gegee dat hulle nie ingestem het tot die skikking met Gilliomee nie. Hulle het ook aangedring om "vals inligting" te korrigeer.
ADCP-raadslid, Jeanette Gouws, maak kapsie teen 'n mediavrystelling deur die Mosselbaai-munisipaliteit dat opposisiepartylede sonder apologie afwesig tydens die spesiale vergadering oor Gilliomee se lot was.
Gouws sê in haar mediaverklaring dat sy om verlof aansoek gedoen het vanaf 12 tot 16 Julie. Die verlof is deur die speaker goedgekeur. "Dit blyk of daar 'n miskommunikasie kon gewees het en dus is dit verkeerdelik versprei dat die ACDP sonder verskoning afwesig was. Die ACDP glo egter dat dit 'n eerlike oorsig sonder intensie was."
Gouws sê in haar mediaverklaring dat die VF+ ook nie tydens die spesiale vergadering teenwoordig was nie. "Dit is dus onwaar dat die hele raad ingestem het tot die beëindiging van die kontrak en skikkingsooreenkoms, want nie al die verkose raadslede was teenwoordig nie.
"Die ACDP sou nooit ingestem het tot 'n geheime skikking of inligting van die gemeenskap weerhou het nie. Dit is inwoners se geld wat spandeer is en skandalig om dit sonder volledige onthulling uit te gee."
Gouws het desondanks afgesluit dat die ACDP Gilliomee bedank vir sy toewyding en hom sterkte vir die toekoms toegewens.
Repliek
Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag gesê dat hulle volstaan by die verklaring waarop die twee partye ingevolge die ooreenkoms ooreengekom het.
* Sien 'n brief van adv Thys Gilliomee hier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'