Thys Gilliomee, Mosselbaai:
Dit is tyd om te groet en nuwe horisonne op te soek, maar eers wil ek dankie sê. Dankie aan - 'n gemeenskap met wie ek besonder goed kon saamwerk; 'n munisipaliteit wat werklik die beste in die land is en aan elke munisipale personeellid wat munisipale dienslewering en die inwoners voorop stel. Só word verseker dat Mosselbaai sy faam as die beste munisipaliteit gestand doen. Dankie ook aan al die raadslede wat van my oopdeurbeleid gebruik gemaak het.
Die tyd as munisipale bestuurder van Mosselbaai was van die beste jare van my professionele loopbaan. Dis opmerklik dat sommige mense nou beweer dat politiek my aanstelling destyds beïnvloed het, of dat ek nie oor die nodige ervaring of kennis vir die pos beskik het nie.
Ek beskik oor 'n B Econ sowel as 'n honneursgraad in Publieke Administrasie (Universiteit van Stellenbosch), asook 'n B Com honneurs in Ekonomie, 'n B Proc, 'n LL M en 'n sertifikaat in Arbeidsverhoudinge (cum laude), almal van die Universiteit van Suid-Afrika.
In April 2005 as ek as advokaat van die hooggeregshof in Suid-Afrika toegelaat. My loopbaan in die plaaslike regering het reeds in Desember 1988 by die Kaapse Metropolitaanse Raad op Stellenbosch begin en daarna volg posisies by die Oostenberg-munisipaliteit, die Stad Tygerberg en die Stad Kaapstad. Hierna, 'n aantal jare in die privaatsektor, hoofsaaklik as eienaar van my arbeidsverhoudingepraktyk. In 2012 doen ek verder ondervinding op by Bitou-munisipaliteit, eers as waarnemende finansiële hoof en toe as waarnemende munisipale bestuurder.
Ek kan met trots sê dat Mosselbaai in my tyd die Kwêla Dorp van die Jaar-toekenning ingepalm het, danksy 'n gemeenskap se samewerking. Die ruim eerste prys was nie kontant vir die munisipaliteit nie, maar bemarkingslugtyd op kykNET en 'n professionele video oor die dorp wat sedert Februarie 2018 steeds gebruik word om die dorp te bemark.
Die verdere vier toekennings betreffende finansiële bestuur lê my na aan die hart, want dit bevestig dat die munisipaliteit deurentyd diensleweringsteikens gehaal het sonder om belastingbetalersgeld te verkwis. Twee keer het die graderingsmaatskappy Good Governance Africa Mosselbaai eerste gestel as die National Most Financially Sustainable Municipality. Die uitgelese internasionale graderingsmaatskappy Ratings Afrika het in 2019 én 2020 Mosselbaai as die mees finansieel-volhoubare munisipaliteit gegradeer.
In 2020, te midde van die Covid-19-pandemie en die gevolglike uitdagings, kry die munisipaliteit 'n skoon oudit.
Ek is besonder trots op die munisipale personeel wat te midde die pandemie se uitdagings sonder skroom oortyd gewerk het om kospakkies aan ons gemeenskap uit te deel toe verantwoordelike departemente nog nie daarvoor gerat was nie. Ek is trots dat, hoewel die Spesiale Ondersoek-eenheid 'n ondersoek na dié projek geloods het, geen onbehoorlike optrede gevind is nie. Dis jammer dat sommige opposisiepartye in Mosselbaai die regstelsel telkens probeer misbruik vir politieke gewin, maar bemoedigend dat die regstelsel deurentyd ten gunste van die munisipaliteit bevind het.
Nou is dit weer verdagmakery oor die bedrag waarop ek met die munisipaliteit geskik het met my uitdienstrede. Die skikking is uitstaande verlof, 'n prestasiebonus en uitstaande salaris - geld waarop ek geregtig is - allermins die beweerde "goue handdruk".
Ek verlaat die munisipale bestuurder se kantoor na 55 maande as 'n trotse Mosselbaaier. Ek beskou Mosselbaai as die beste plek met die beste inwoners in die land en sal voortgaan om as ambassadeur die dorp se naam hoog te hou.
* Vergunning om woordperk te oorkskry. Red.