Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Dit is 'n gewaardeerde eerste vir Mosselbaai en waarskynlik vir die land." Só het die patriarg van omgewingskwessies en toerisme, Fred Orban, na die munisipaliteit se inisiatief verwys om die onderskeie omgewingsbewaringsinstansies onder een oorkoepelende vennootskap saam te voeg.
"Die inisiatief het sy ontstaan tydens 'n besoek deur die uitvoerende burgemeesterskomitee aan Wyk 11 en spesifiek die Fransmanshoek Bewarea vroeër.
FOTOGALERY: Fransmanshoek Bewarea
Die behoefte om gekoördineerd met bestaande bewaringsinstansies te kan skakel, 'n geleentheid vir bewaringsgesindes om effektief met mekaar te kan praat en 'n vennootskap vir nouer samewerking tussen die munisipaliteit en instansies, wat by omgewingsbewaring betrokke is, was duidelik.
Meer effektiewe skakeling
"Die burgemeesterskomitee en raad stel effektiewe vennootskappe en goeie verhoudinge met gemeenskapsinstansies voor. Daarom is dit noodsaaklik om meer effektiewe skakeling met ons bewaringsinstansies te verseker," aldus raadsheer Dirk Kotzé, die uitvoerende burgemeester.
Orban het tydens die byeenkoms, waar die bewaringsinstansies se belangstelling in 'n oorhoofse vennootskap getoets is, gesê Mosselbaai-munisipaliteit het weer eens die voortou geneem met dié inisiatief.
Onder die bewaringsinstansies wat die verkennende gesprek na 'n effektiewe vennootskap met gedeelde doelwitte bygewoon, en eenparig die inisiatief ondersteun het, was onder meer die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.), CapeNature, Fransmanshoek Bewarea, Groot-Brakrivier Bewarea, Klein-Brakrivier Estuary-bewaringsgroep, die Hartenbos Rivierforum, Gondwana Conservation Foundation, die Danabaai Bewarea en verskeie leiersfigure.
Verkennende gesprek
"Op Dinsdag, 11 April, het ek, raadslede Nickey le Roux, Anton Dellemijn en Leon van Dyk, asook direkteur Carel Venter en ons regsverteenwoordigers, Douw Steyn en Yolande van der Berg, met verteenwoordigers van CapeNature vir 'n verkennende gesprek vergader oor hoe omgewingsbewaring in die groter Mosselbaai die beste bevoordeel en bevorder kan word.
"Die burgemeesterskomitee en raad glo in vennootskappe wat as kragvermenigvuldiger kan dien in inisiatiewe om ons dorp te bevorder," sê burgemeester Kotzé.
'n Doelstelling van die GROEI strategie is om die ongereptheid van Mosselbaai se natuurlike erfenis te beskerm en te bevorder.
"Ons sien uit om hierdie samewerking te formaliseer in 'n vennootskap in die beste belang van die hele Mosselbaai en tot voordeel van ons pragtige Mosselbaai en al sy mense."
Foto's: Dewald Ras
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’