Update
MOSSELBAAI NUUS - Twee fietsryers, ongeveer dieselfde ouderdom wat op Dinsdagoggend, 2 Februarie niksvermoedend hulle vroue gegroet het om die buitelug te gaan geniet, het nooit weer teruggekeer huis toe nie.
Beide is in onverwante voorvalle tydens hul fietsritte dood.
Laaste groet
Toe oud-Mosselbaaier Billy van Rooyen (64) Dinsdagoggend oudergewoonte gaan fietsry, het hy nie geweet dat hy sy vrou, Jenny vir die laaste keer by hulle huis op Reebok sou groet nie.
Billy is kort na negeuur deur 'n voertuig op die R102-pad tussen Fraaiuitsig en Groot-Brakrivier raakgery. Hy is opslag dood.
Volgens die polisie was die bestuurder van die voertuig 'n 80-jarige man. Die polisie ondersoek die voorval en 'n saak van strafbare manslag is geopen.
Billy en sy vrou, Jenny het reeds in 1980 op Mosselbaai aangekom.
Al vier hulle kinders het hier skool gegaan en Billy het vir jare by die FNB-tak op Mosselbaai gewerk, eers as 'n rekenmeester en later as bestuurder.
Jenny het die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê, dat Billy baie lief was vir fietsry. "Hy het Dinsdag soos elke ander oggend gaan fietsry."
Jenny het kort daarna 'n oproep gekry met die nuus dat haar man raakgery is.
"Ek het nie dadelik besef hy is dood nie."
Die egpaar se vier kinders, Ruan, Stephan, Werner en Lindi-Louise bly onderskeidelik in Ierland, Namibië, Yzerfontein en Kathu.
Teen druktyd was geen begrafnisreëlings bekend nie omdat die egpaar se kinders steeds reisreëlings moes tref.
Sy bedank haar straat se inwoners wat laer om haar getrek het sedert Billy se onverwagse dood.
Geen identifikasie
Die ooggetuie wat Dinsdagoggend knap na sewe 'n 61-jarige fietsryer sien beswyk het, het in 2015 tydens die parkrun 'n soortgelyke ervaring gehad toe een van die deelnemers voor haar inmekaargesak het.
Martie Kapp se daaglikse roetine sluit 'n vroegoggend stappie in. Toe sy dié oggend by die NG Kerk Hartenbos kom, sien sy 'n man van sy fiets af val. "Hy het probeer opkom, maar toe net bly lê."
Sy het 'n familielid wat by die buurtwag betrokke is laat weet wat daarna die nooddienste geskakel het.
Martie sê dat sy en lede van die gemeenskap wat ook op die toneel was voordat die ambulans opgedaag het, gepoog het om die fietsryer by te bring. "Hy het vir my so bekend gelyk, maar het geen vorm van identifikasie by hom gehad nie."
Manie Jansen van Vuuren is op die toneel dood verklaar. Hy het vermoedelik aan 'n hartaanval beswyk.
Jaco Rossouw van Hartenbos, 'n jarelange vriend van die Jansen van Vuurens, het aan die Advertiser gesê dat hy net verlede week vir Manie en sy vrou, Sharon op die lughawe gaan haal het. Die Jansen van Vuurens het 'n vakansiehuis op Hartenbos.
"Oom Manie is 'n gesiene man van Alberton. Hy en tannie Sharon is vir ons soos familie. Ons ken hulle al oor die 20 jaar." Volgens Rossouw het Jansen van Vuuren gereeld fietsgery.
"Oom Manie het gaan fietsry en na 'n geruime tyd het tannie Sharon bekommerd geraak omdat hy nie opdaag nie," het Rossouw gesê.
Jansen van Vuuren laat sy vrou, Sharon, seun Garth, dogter Melissa, skoondogter Natasha en twee kleinkinders agter.
Manie Jansen van Vuuren
Billy en sy vrou, Jenny van Rooyen.
Manie Jansen van Vuuren
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'