Video
FRIEMERSHEIM NUUS EN VIDEO - Die dorpie Friemersheim, duskant Groot-Brakrivier is soos 'n vars bries aan die begin van 'n nuwe jaar wat dalk vir sommige effe donker begin het. Hier floreer kuns in die vorm van muurskilderye.
Plaaslike kunstenaar Fourie Ackerman (60) woon op 'n plaas naby Friemersheim en het in Desember 2020 tydens die inperking besluit om die mure van wonings op die dorp met wildlewe te beskilder.
Fourie sê baie van die wonings is teen die straat geleë en die wonings se mure vertoon baie verweer.
"Ek het besluit om die ou mure te gebruik om iets nuuts te doen. Ek het die huiseienaars gevra of ek dit maar kan doen en hulle was baie in hulle noppies daarmee." Hy het self die koste van die verf gedek en sê die terugvoering van inwoners en motoriste was oorweldigend.
Hy sê die kuns lig Friemersheim op omdat dit die dorp se wonings mooi laat lyk. Fourie se eerste kunswerk by een van die wonings is 'n leeu. Daarna het hy 'n luiperd geverf en toe het twee zebras gevolg.
Kyk 'n video hieronder:
Fourie en sy vrou het in 2015 vanaf Pretoria na Friemersheim getrek. Hy spesialiseer in die skilder van wildlewe en sê juis omdat Friemersheim so naby aan 'n wildreservaat geleë is, pas hierdie tipe kuns op die wonings se mure perfek in.
Inwoners is net so ingenome met Fourie se talent. "Dit is heerlik om na die pragtige kunswerke te kyk," sê 'n inwoner, Roseline Mars.
Fourie Ackermann staan by 'n kunswerk in wording wat hy langs die pad, in die rigting van Friemersheim op Maandag, 18 Januarie geverf het.
Twee zebras teen 'n woning se muur op Friemersheim.
'n Arend in vry vlug teen 'n woning se muur.
Hierdie kunswerk is die eerste van vele wat kunstenaar Fourie Ackerman op Friemersheim teen wonings se mure verf.
'Ons bring jou die nuutste Friemersheim, Tuinroete nuus'