MOSSELBAAI NUUS - Munisipale wetstoepassers is Sondagmiddag, 26 Februarie, na die informele nedersetting, Asazani Izinyoka in Mosselbaai ontplooi nadat nog 'n motoris op Facebook gekla het dat daar na bewering klippe na voertuie op Louis Fourieweg, wat onder die nedersetting verbyloop, gegooi is.
Dié persoon het ook foto's van die beweerde klipgooiers in aksie geneem en op Facebook geplaas.
Die klipgooi-insident volg twee weke nadat 'n besoeker van Knysna, Chris Roos, se motorvoorruit op Sondag, 12 Februarie deur 'n skerp voorwerp getref is toe hy en sy vrou, Ludell op dieselfde plek verbygery het.
Roos, 'n advokaat in die ingenieurs- en boubedryf, het 'n dringende versoek aan die Mosselbaai-munisipaliteit gestuur waarin hy vra dat waarskuwingsborde binne 48 uur opgerig word om die publiek te waarsku teen gevaarlike vlieënde voorwerpe in die gebied.
Die munsipaliteit het deur hul regsafdeling geantwoord dat Roos nie 'ongestaafde bewerings' op sosiale media platforms moet maak nie.
Dié reaksie het groot ongelukkigheid onder die publiek en Facebook-gebruikers veroorsaak. 'n Inwoner het aan Mossel Bay Advertiser gesê: "Ons het baie respek vir ons munisipaliteit en hulle doen fantastiese werk, maar met hierdie insident is daar nie reg opgetree nie. Dis 'n jammerte."
"Die Mosselbaai-munisipaliteit se wetstoepassers het die klagtes aangaande klipgooiery op Louis Fourie-weg in die Diasstrand-omgewing ondersoek. Wetstoepassers het nie net voertuigpatrollies gedoen nie, maar ook voetpatrollies.
"Tydens die patrollies is daar met die inwoners van die gebied waarvandaan klipgooiery na bewering plaasgevind het, in gesprek getree. Inwoners is gesensiteer om enige moontlike kriminele aktiwiteite aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens te rapporteer.
"Tydens die patrollies is daar ook voorkomende aandag geskenk aan die oprigting van enige onwettige strukture, soos wat die munisipale wetstoepassers op 'n gereelde basis in ander gedeeltes en woonbuurte van die munisipale area doen," sê die senior kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-munisipaliteit, Cornelle Carstens.
Verwante artikel: Advokaat vra vir aksie na 'hotspot' sy voorruit eis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'