MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyfjarige seun is een van die jongste slagoffers in wat blyk 'n daad van weerwraak na 'n rooftog te gewees het toe hy deur 'n groep mans uit 'n informele woning in KwaNonqaba verwyder is.
Volgens inligting verskaf deur die KwaNonqaba-polisie, het die voorval op Vrydag, 5 Maart omstreeks 19:00 by 'n woning in Mabolostraat gebeur.
'n Groep mans het na bewering by 'n informele woning aangekom op soek na 'n vermeende rower wat een van hulle glo beroof het.
Die mans het slegs die vermeende rower se vrou en dié se vyfjarige susterskind tuis aangetref.
'n Woordewisseling het tot 'n geweld-situasie gelei waarna die groep mans die vrou aangerand, 'n televisiestel stukkend geskop, asook 'n kontantbedrag by die vrou gesteel het.
In die proses het die groep die vyfjarige kleuterseun gegryp en gedreig om hom as 'n losprys by hulle te hou tot die vermeende rower weer sy opwagting by die huis maak.
Lede van die gemeenkap in die omgewing het die groep mans met die kind gesien en hulle agternagesit om die kind te bevry.
'n Vyf-en-twintigjarige man is in verband met die voorval hegtenis geneem en het vandeesweek in die Mosselbaai-landdroshof verskyn. Die verdagte word aangekla van menseroof, diefstal, aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging.
"Van die polisie se kant af, poog ons om berading vir die slagoffers te reël na hierdie uiters traumatiese ervaring. Die geweld teen vroue en kinders moet met wortel en tak uitgeroei word," berig die kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisiestasie, sers Kappie Kapp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'