MOSSELBAAI NUUS - Danabaaiers het die gemeenskapsaal volgepak op Woensdag, 27 September vir 'n terugvoervergadering oor onder meer toegangskwessies.
Inwoners is vir jare reeds ongedurig oor die gesloer met 'n alternatiewe toegang wat in 2019 reeds goedgekeur is.
Die munisipale bestuurder, Colin Puren, het bevestig dat die tender vir die alternatiewe nooduitgang vir Danabaai onlangs gepubliseer is en dat bouwerk aan fase een waarskynlik vroeg in Januarie 2024, die bouersvakansie in ag genome, sal begin.
Inwoners is ook ingelig dat 'n deel van die huidige Floraweg verlê sal word as deel van die voorgenome verlenging van Apiesdoringweg, met 'n afrit wat by Crotzstraat aan Louis Fourieweg sal aansluit. Om voorsiening te maak vir die toename in verkeersdruk, word óf 'n sirkel, óf verkeersligte by die toegang na die Mosselbaai Aftree- en Leefstyloord beplan.
Danabaaiers is ook ingelig dat die ontwikkelaar van die Mosselbaai Aftree- en Leefstyloord eersdaags met bouwerk aan woonstelle op die terrein sal begin en dat toestemming verleen is vir konstruksievoertuie om 'n alternatiewe toegang op Floraweg na die bouterrein te gebruik.
Dit sal puntdienste en konstruksievoertuie vir geruime op dié roete meebring. Ter versagtende maatreëls, onder meer dat ryvoorrang aan motoriste gegee sal word en dat konstruksievoertuie nie gedurende spitstye toegelaat sal word nie, sal geld. Die alternatiewe toegang is vir verkeersveiligheidsredes toegelaat, gegewe die styl bult kort voor die huidige ingang na die oord.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’