MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit het 'n aanbieding aan die oorsigkomitee gedoen oor die Sonskynvallei-behuisingsprojek waarheen onder meer inwoners van Powertown asook agterplaasbewoners hervestig word. Sodra alle Powertown-inwoners hervestig is, sal die grondgebied gerehabiliteer word omdat dit deel van 'n vloedvlakte van die Klein-Brakriviermonding vorm.
As deel van die eerste fase is reeds 105 families vanaf Powertown na Sonskynvallei hervestig en het 47 van Sonskynvallei se inwoners nuwe huise bekom. Voorts is 206 van die bestaande Sonskynvallei-wonings opgegradeer of herstel. In die proses is 60 werksgeleenthede geskep. Daar is reeds aan 92% van die nuwe huiseienaars titelaktes oorhandig.
In die derde fase sal nog 150 erwe met topstrukture, oftewel wonings, as deel van die uiteindelike verdere terreinontwikkeling van nóg 660 erwe, waarvan die beplanning en omgewingsimpakstudie afgehandel is, volg. As deel van hierdie fase sal ook FLISP-behuising vir kwalifiserende kopers beskikbaar wees. Benewens losstaande huise, sal van die huise in hierdie fase skakelhuise of selfs dubbelverdiepingeenhede wees.
Die oorsigkomitee was veral besorg oor die klein groepie Powertown-inwoners wat steeds weier om te hervestig. Hierbenewens is kommer uitgespreek oor die gebrek aan dienste, soos onder meer beskikbare skole, gebrek aan skoolvervoer en leerders se veiligheid op pad skool toe en terug.
Vrae is ook gevra oor die haalbaarheid van behuisingsontwikkelings op plase. Die parlementariërs was ook besorg oor die voorsiening al dan nie van oop openbare ruimtes, speelareas vir die kinders asook genoegsame sportfasiliteite.
"Dit is belangrik dat beplanning voorsiening maak vir geïntegreerde gemeenskappe en dat ook na die belange van huishoudings met kinders aan die hoof, omgesien word," het LUR Uys benadruk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'